BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 60
GEBED EN VERTROUE NA NEERLAAG !
Psalm 60 handel oor ‘n ervaring van neerlaag tydens gevegte teen die Arameërs van Mesopotamië, sowel as dié van Soba. Terwyl Dawid teen hulle geveg het, het die Edomiete agter sy rug ingekom en groot skade aangerig aan die jong koninkryk. Dawid het waarskynlik die Arameërs in die Noorde uit oorywerigheid aangeval en nie die Here geraadpleeg nie. Daarom beskou hy die aanval van die Edomiete as ‘n tugtiging van die Here. In sy oorywerigheid het hy ook strategies onwys opgetree deur nie die area van die Dooie See in die suide te beveilig, terwyl hulle in die Noorde geveg het nie. Die Edomiete het dit gesien en hul kans gevat om die land te stroop.
Verse 1 – 6 : Dit was vir Dawid ‘n skok dat hul deur die Edomiete groot skade aangedoen is, omdat hy al daaraan gewoond geraak het dat die Here altyd aan hom die oorwinning gee. Hy moes egter leer dat hy ook sy verstand moet gebruik en sy strategie reg beplan in enige oorlog. Vertroue op God is nie ‘n plaasvervanger vir swak strategie nie. Jy kan God vertrou, maar dom besluite maak dat jy gaan skade ly. God het ons ‘n hart gegee wat reg moet wees met God, maar ook ‘n verstand wat nugter moet bly en aktief gebruik moet word in afhanklikheid van die Here. Dawid vra die Here om die land te genees van die seer en skade wat dit gely het deur sy dom strategie. In plaas van ‘n banier wat staan vir oorwinnende aanval in die oorlog, het God vir Israel ‘n banier van vlug gegee. Dit is ‘n vernederende ironie wat hulle ‘n duur les sou leer. Dit was belangrik dat die jong koninkryk van Dawid sy beeld van krag deur oorwinnings teen die omringende vyande behou.
Verse 7 – 10 : Die uitweg is weer gebed. Al het Dawid ‘n groot fout gemaak, bly staan God se beloftes dat hy die hele land wat aan hom beloof is, sal inneem: Sigem (Wes-Jordaanse gebied), Sukkot (Oos-Jordaanse gebied), Gilead (Oos-Jordaanse gebied, waar Manassa gebly het) , Juda (Wes-Jordaanse gebied). Efraim was ‘n sterk stam, op militêre gebied, wat beskutting gebied het. Dawid kom uit Juda en daarom gee die stam aan hom sy veldheerstaf, wat ‘n teken is van sy gesag om te regeer. Dawid weet dat God se beloftes ook inhou dat hy die omringende nasies sal onderwerp. Moab is sy waskom wat hy vuil agterlaat, en Edom kan hy so maklik oorwin deur net sy skoen op hulle te gooi. Hy hoef nie eers die moeite te doen om met sy skoene tot daar te loop om hulle te verwyder nie. Met min moeite sal hy hulle onderwerp. Oor die Filistyne juig hy alreeds asof hulle oorwin is. Omdat God beloof het om al hierdie gebiede onder sy heerskappy te plaas, sal hy hulle oorwin. Hierdie nederlaag was net ‘n tydelike ervaring waaruit hulle moes leer om binne die wil van God te beweeg. Dawid het aanhoudend op die beloftes van God vertrou en dit was die krag in sy gebed (2 Sam. 7:18-29).
Verse 11 – 14 : Alles lyk nou, in die midde van die nederlaag, asof alles teen die vervulling van die beloftes van God ingaan. God het hulle nie beskerm nie, en nie saam met hul leërs uitgetrek nie. Hy vra die Here om hulp teen die vyand. Hy het nou opnuut geleer om eers die Here te raadpleeg, soos hy altyd gedoen het, maar hierdie keer in oorywerigheid nagelaat het. Hy maak dit reg deur weer éérs na die Here toe te gaan en sy hulp te vra. As God Hom onttrek, help die beste beplanning en metodes niks. Hy het nou wel geleer hy moet strategies nie onnodige foute maak nie. Maar hy moet ook sy strategie in afhanklikheid van die Here beplan. Die geestelike en die praktiese moet saamgaan. As sy hart op die Here vertrou en hy beplan sy strategie met nugter denke in afhanklikheid van die Here, sal hulle in God kragtige dade doen. Hyself is dan met hulle in die oorlog en veg saam met hulle en vir hulle! Dawid leer nog ‘n belangrike les. Ons moet nie met eie krag en wysheid God se beloftes in vervulling forseer nie. Soos hy tydens die aanslae van Saul op God gewag het om die koningskap aan hom te gee, moet hy nou op God wag en in God die oorloë voer om die land van belofte te verower. Oorywerigheid en oorhaastigheid is uit die ou natuur en kan die gelowige duur te staan laat kom. Gelukkig kan hy dit altyd weer bely en in lyn met God se wil kom.