Ps 61 Ewige koningskap en ewige sekuriteit

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIES OOR DIE PSALMS : Psalm 61

EWIGE KONINGSKAP EN EWIGE SEKURITEIT !

Dawid het die gedig geskryf oor die tyd toe hy uit Jerusalem moes vlug. Waarskynlik was dit met die opstand van Absalom toe Dawid in Mahanaim was. Die spanning was vir hom byna te veel, maar hy neem weer sy toevlug na God in die gebed. God het aan hom ‘n ewige koningskap beloof en hy vertrou op daardie beloftes van God. Dit sou in sy nageslag en in Christus moontlik gemaak word. Wat help ‘n regverdige koning met ‘n regverdige regering as dit net vir ‘n tyd is! Dawid self verlang dat daar ‘n ewige koninkryk moet wees wat ewige sekuriteit aan mense bring. Die feit dat hyself uit sy paleis verjaag is, laat hom besef hoe noodsaaklik dit is dat ‘n regverdige koninkryk vir ewig bestaan. Hy wil graag langer leef en koning wees voor die aangesig van God.

Verse 1 – 5 : Die digter voel ver van die veiligheid van sy paleis en die tempel. Net God is sy sekuriteit. Noudat hy regeer, en tog moes vlug, neem hy sy toevlug tot gebed, soos in die dae voor sy koningskap toe hy vir Saul gevlug het. Hy kan self nie die oorwinning behaal nie. Die aanslag is vir hom te veel, soos ‘n rots wat te hoog is om uit te klim. Die Here het vir hom ‘n toevlug geword. Deur die jare het sy ondervinding toegeneem dat die Here ‘n veilige skuilplek is. Hy het die behoefte om by die Here self te skuil, soos ‘n kuiken onder die vlerke van ‘n arend. Die Here is ‘n sterk toring teen die vyand. Die sekuriteit by die Here is groter as die bedreiging.

6 – 9 : Die Here het sy gebed gehoor, wat gepaard gegaan het met beloftes wat hy aan die Here gemaak het. Die erfdeel wat aan die volk van God behoort en waaroor Dawid moet heers, het God teruggee. Dawid se begeerte is om lank te leef en dat daar geen einde aan die koningshuis van Dawid sal kom nie. ”Mag hy vir ewig voor die aangesig van God op die troon sit”. Die regering moet ewig en in die direkte teenwoordigheid van God wees. God se goedheid en getrouheid moet hom op die troon bewaar. So wil hy dan God prys tot in ewigheid. Dawid is ‘n tipe en verteenwoordiger van Christus. Soos hy in geregtigheid onder die hand van God wil regeer, sal Christus dit vir ewig doen op die troon van Dawid. Jesus is jare daarna gebore uit die geslag van Dawid en het reeds met sy hemelvaart op die troon van God gaan sit om oor sy nuwe volk te regeer. God die Vader is nou besig om al sy vyande aan Hom te onderwerp (1 Kor. 15:25). Soos Dawid voor God regeer, sal Christus vir ewig as verheerlikte Seun van Dawid voor die Vader wees as ewige Koning. Soos Dawid oor die erfenis wat aan Abraham beloof is, moes regeer, sal Christus vir ewig oor die geestelike Israel regeer: ”Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is . . . ” (1 Petr. 2:9) ”Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.” (Jes. 9:5-6)

se gebed om verlossing gaan vir die soveelste keer in lof tot eer van die Naam van die Here wat aan hom die oorwinning gee. Hy wil vir EWIG psalmsing. Dit doen hy nou by God in die hemel waar hy die Seun van aanbid, waar Hy reeds op die troon van Dawid sit tot in ewigheid. (Open. 12:10) Sy gebed vir ‘n ewige koninkryk en die geleentheid om God vir ewig te prys, is albei vervul. By God is ewige veiligheid. Daar sal nooit weer onreg toegelaat word nie. Kinders van God kan nooit weer daar vervolg word nie. (Open. 7:9-17) Hulle sal saam met God voor sy troon dien tot in ewigheid. Alle gelowiges gaan deel hê aan die ewige koninkryk van die troon van . het ook gebid volgens die beloftes van God en daarom kon hy met geloof bid. (Jes. 11:1-5, 10) Sy begeerte na ‘n ewige koninkryk was in lyn met God se plan met Israel. In Christus is dit vervul.

(Visited 47 times, 1 visits today)