BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : PSALM 62
NOGTANS SAL MY SIEL STIL WEES VOOR GOD
Die digter beskryf die toestand van sy siel te midde van groot aanvegtinge. Mense wat magtig lyk, bedreig hom, maar hulle is eintlik baie nietig omdat hy op God vertrou. Al is die bedreiging hoe groot, nogtans sal sy siel by God rustig wees. God alleen is sy absolute veiligheid. God is vir hom, soos hy so dikwels sê, sy “Rots waarin hy veilig skuil”. Hy het so dikwels in bergvestings geskuil toe sy lewe bedreig was. Dit is vir hom ‘n kragtige simbool van die veiligheid en beskerming wat hy in God vind. Hy is absoluut oortuig dat niks met hom kan gebeur as God dit nie toelaat nie. Die keuse van wat met hom sal gebeur, berus nie by sy vyande nie, maar by God. Daarom is sy siel in volmaakte kalmte te midde van die bedreiging. Hy beleef die “nogtans” wat net die geloof kan gee. Hy is meer as oorwinnaar in alle omstandighede. (Rom. 8:37)
Verse 1 – 5 : Hy getuig dat sy siel stil is tot God, want van Hom kom sy verlossing. Nie menslike planne en kragte nie, maar God alleen is sy sekuriteit. Daarom sal hy nie te erg geskud word deur die bedreiging nie. Soos ‘n muur, wat reeds wil omval, deur iemand omgestoot word, wil hulle hom sonder genade verbrysel. Hulle gee voor dat hulle hom seën, terwyl hulle hom vervloek in hul binneste. Dit is dus valse mense met wie jy nie ‘n verhouding kan bou nie. Geen gesprek om vrede te maak, sal werk nie, want hulle hou van leuens en is jaloers op hom. Hulle wil hom van die hoë posisie wat God hom gegee het, ontneem.
Verse 6 – 14 : Hy praat met homself om net voor God stil te wees en alles in sy hande te laat. Hy bly ingestel op sy verhouding met God en bly met vewagting vertrou dat God sy saak sal veg. Hoe meer hy nadink oor God se betroubaarheid, hoe meer besef hy dat hy gladnie vir die bedreiging hoef te skrik nie. By God vind hy altyd verlossing uit gevaar. God sal sy posisie en eer beskerm. God het hom in die posisie aangestel en sal hom daarin bewaar. Hy kan rustig alles in God se hande laat. Hy herhaal weer dat God sy rotsvesting is waarheen hy kan vlug. Niks sal hom meer skud nie. Hy roep nou selfs die volk op om saam met hom die Here te vertrou. Hulle kan met vrymoedigheid in gebed na God gaan met enige probleem. God is sterk en betroubaar. Daar-teenoor is die vyande van die gelowige nikswerd en nietig. Hulle weeg nie op teen die sterkte van God nie. Hy spreek die volk aan om nie hul oplossing van probleme op sondige maniere te vind nie. Hulle moenie ander onderdruk of besteel nie. Hulle moet ook nie op hul eie rykdom vertrou as die Here hulle finansieël seën nie.
Hulle moenie soos die vyande van die gelowiges word nie. God is in staat om altyd in alle omstandighede te help. God self het dit aan Dawid geopenbaar dat dit veilig is om op God se krag te vertrou. Daarby is God ook goed. Hy sal sy goedheid aan die gelowige openbaar in elke krisis. HY vergeld elkeen na sy werk. Sy goedheid en geregtigheid gaan saam. Omdat die Here in sy wese goed is, sal Hy regverdig optree. Hy sal dus ook teen die vyande van die gelowiges optree volgens wat hulle verdien. Hy sal ook die gelowiges se vertroue op hom raaksien en daarvolgens handel. Dawid wil hê alle ware gelowiges moet leer om so op God te vertrou dat hul siel ook tot rus kom by die Here. Die mate van vertroue op God bepaal die mate van rus wat die gelowige by God het.
Jesus het jare later dieselfde boodskap deurgegee: ”Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele.” (Mat. 11:28-29) Die mens se siel is die deel van sy wese wat homself wil laat geld, en veg vir sy eie beskerming as hy bedreig word. Hy moet leer om by God tot rus te kom sodat sy eie wil en emosies nie oorneem en hy uit sy eie krag begin veg vir oorlewing of oorwinning nie. Ons siel moet alles aan God oor gee en by Hom tot rus kom. Dan sal die Here lei wanneer en hoe hy moet optree.
s absoluut oortuig dat niks met hom kan gebeur as God