BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 63
MY SIEL DORS NA GOD !
Psalm 63 is een van die mooiste en intiemste gedigte van Dawid, wat sy diep geestelike verhouding met God openbaar! Die psalm is baie persoonlik en op God alleen gerig. Dawid was in die woestyn en ver van die heiligdom waar hy die teenwoordigheid van God kon indrink in die eredienste. Hy mis dit nou geweldig, waar hy moes vlug vir Absalom en nie meer in die tempel kan aanbid nie. Sy siel voel binne soos die omstandighede buite hom. Die woestyn is ‘n dor land sonder water, en beeld die geestelike droogte in sy siel kragtig uit. Sy siel verlang daarna om die teenwoordigheid van God te ervaar, soos hy gewoond was. Selfs in sy fisiese omstandighede wil hy die teenwoordigheid en gemeenskap van die Here duidelik beleef. Sy siel is verskeur oor die feit dat sy eie seun sy koningskap bedreig, en dat baie van sy onderdane maar te gretig was om teen hom op te staan. Die onbetroubaarheid van mense naby hom se ondersteuning maak dat hy nog meer na die standvastigheid van God se betroubare liefde verlang. Daarom soek hy, in gesprek met God, die belewenis van ‘n innige verhouding met God, en om sy blydskap in God alleen te vind!
Verse 1 – 4 : Dawid se verhouding met God is vir hom selfs belangriker as sy eie veiligheid. Sy siel dors na die Here self en nie soseer na rustige uiterlike omstandighede nie. Soos hy die Here in die heiligdom beleef het, wil hy Hom ook nou beleef in die woestyn, in onveilige omstandighede. Hy wil nie afhanklik wees van uiterlike plekke of rituele om God te beleef nie, maar wil in sy siel die geestelike lewe van God ervaar. Jesus het in die Nuwe Testament gesê dat daar ‘n tyd sal kom wanneer dit nie meer belangrik sal wees op watter berg mens God sal aanbid nie, maar in gees en in waarheid. Dawid wil nou alreeds so ‘n verhouding met die Here hê. Paulus het ook geskryf dat dit nie meer saak maak watter uiterlike dag jy eenkant sit om God te dien nie. Om elke dag in jou hart vervul te wees met die teenwoordigheid van God, waar jy ookal beweeg, is ware gemeenskap met God. Die goedheid van die Here, wat Dawid so in sy binneste wil beleef, is meer werd as die uiterlike dinge wat die wêreld hom kan bied. As die dors na God in sy siel vervul is, sal sy lippe die Here prys al is dit woestyn rondom hom.
Verse 5 – 8 : Die Here self is die lewende water vir Dawid. Die Here self versadig sy siel sodat sy hele lewe nou geestelik word. God is die oorsprong van die lewe, en ware godsdiens is voortdurende ongehinderde gemeenskap met Hom in alle omstandighede op alle plekke. Die geloofsoog sien en beleef God se teenwoordigheid en geestelike krag in elke fasset van die lewe. In die oggend en in die nag gee voortdurende gemeenskap met God sin en stukrag vir die lewe. Die hele lewe van die gelowige word ‘n erediens. Die woestyn word ‘n tempel. Met sy hele lewe hef hy sy hande op in lofprysing, want die Here self is vir hom die lewende water. Hy doen dit nie nou meer net in die tempel nie. Die bed of die veld word ‘n plek van gemeenskap met God. So beleef Dawid alreeds vooruit iets van die geestelike lewe wat die gelowiges later na pinkster sou beleef. In die woestyn, weg van sy huis en van die heiligdom, is hy onder God se vlerke. Die ware godsdiens is nie meer afhankilik van eredienste in ‘n uiterlike tempel en die hoogte van ‘n berg nie.
9 – 13 : Die Here het sy gebed verhoor. Die toets wat hy moes deurgaan, het hom laat besef dat dit vir hom om God, en innige gemeenskap met God, gaan. Dit alleen kan sy siel versadig. Sy vyande soek sy ondergang, maar juis omdat sy siel aan die Here self verkleef (naby die Here) is, is die Here sy ondersteuning. Hy vertrou op die Here. Hy vind vervulling in die Here en nie in sy koningskap nie. Tog sal God sy koningskap beskerm, want dit is God se wil vir hom en die volk. Sy vyande sal vernietig word; hulle is nie op God ingestel nie. Die koning sal bly wees in God en Hom eer.