BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 64
GOD SAL DIE GODDELOSE VERGELD !
Die stryd tussen die regverdige en die goddelose duur altyd voort. Die goddelose is van nature vyandig teenoor die regverdige, en beplan met skynheiligheid en listigheid sy ondergang. Die onopregtes spreek af om vir die opregtes strikke te stel en beskinder hulle om hul naam skade aan te doen. Dit lyk dikwels asof God Hom nie daaraan steur nie en niks daaraan doen nie. Maar God is regverdig en sal optree soos wat die goddelose verdien. In sy wysheid laat Hy die goddelose se dade na hulself terugkom. Wat hulle vir ander beplan, tref hulle self uiteindelik. So maai hulle wat hulself gesaai het. Daarin openbaar God sy geregtigheid en almal leer om die Here te vrees. Die regverdige juig dan omdat God Homself as die regverdige God aan die wêreld openbaar.
1 – 7 : Dawid bid om beskerming teen die aanvalle van sy vyande. Die kwaaddoeners is onrustig en bedrywig en hou raad om die kind van God skade aan te doen. Hulle het geen rustigheid in hul eie binneste nie en hou hul besig met slegte planne. Hulle is gedryfde mense wat vervulling vind in die skade wat hulle ander kan aandoen. Hulle teiken is veral die mense wat die Here in opregtheid wil dien. Die gelowige kan egter, soos Dawid, in gebed na die Here gaan vir beskerming. Hulle tong is soos ‘n skerp swaard wat die gelowige seermaak en wonde veroorsaak. Die tong en die dade van ‘n kwaaddoener kan wel die regverdige tref en hom seermaak. Hulle is nie openlik en eerlik nie, maar doen hul dade op so ‘n wyse dat hulle nie gesien word nie. Die krimineel dink altyd dat hy nie gevang sal word nie. Daarom hou hy van die donkerte en geheime beplanning. Sy bose hart maak bose planne en vind opwinding in geheime idees om ander skade aan te doen. Hy misreken hom egter met God wat alles sien en sy werke aan die lig sal bring. Die waarheid kom altyd uit.
Verse 8 – 11 : God sal skielik optree – wanneer hulle dink hul sal nie uitgevang word nie. God sal hulle tref met ‘n pyl sodat met hulle sal gebeur wat hul aan ander wou doen. Die pyle waarmee hul die opregtes wou tref, sal na hulle terugdraai en hulle sal self gewond word. Hulle eie woorde sal teen hulle getuig. Hulle woorde gee hul bose harte weg. Wat hulle praat, sal mense juis oortuig van hul valsheid. Hulle sal hul eie naam skade aandoen. Mense sal dan agterkom hoe onbetroubaar hulle is en die gemeenskap sal hulle wantrou. Alle mense kan dan sien hoe God die mens die vrug van sy eie dade laat eet. In die wyse waarop God met die werkers van ongeregtigheid werk, sal die wêreld sien dat God hulle wel vergeld vir hul bose dade. Dit sal ‘n onuitwisbare indruk op baie mense maak, sodat hulle ‘n heilige ontsag vir God kry en meer ag gee op hoe God werk. Hy wat die swaard opneem, sal deur die swaard sterwe. Aan die barmhartige sal barmhartigheid bewys word. Die regverdige sal bly wees in die Here! Hy sal die Here vertrou wanneer hy dan ook deur goddelose mense aangeval word, terwyl hyself die regte pad loop. Daar is by God loon vir regverdige optrede. Daar is ook vergelding vir doelbewuste goddelose planne en optredes. God se vingerwysing kan gesien word in wat met die goddelose gebeur. God spreek dikwels sonder woorde in die openbaar as die goddelose se eie dade op homself terugslaan.
Jesaja het die les van die psalm in die volgende woorde saamgevat: ” . . . want as U oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.” (Jes. 26:9b) Daar is twee soorte mense op hierdie aarde: die regverdige en die goddelose. Hulle harte is totaal verskillend
ingestel. Die goddelose geniet bose planne en dade; die regverdige verbly hom in die Here en skuil by hom!