BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 65
LOFLIED OOR OORVLOED !
God openbaar sy goedheid wanneer Hy sy volk se sondes vergewe, en hulle dan seën met oorvloed. Hy straf nie vir altyd nie. Inteendeel, Hy is haastig om te vergewe en dan sy goedheid oor sy kinders uit te giet. Hy wil graag die straf ophef en aan hulle geestelike oorvloed gee. Dikwels voorsien Hy dan ook op tydelike gebied meer as wat hulle nodig het. Die mens het ook ná moeilike tye weer tye van voorspoed nodig om weer vir hom moed te gee om voort te gaan. God toets en beproef nie net altyd en voortdurend nie. Hy wissel dikwels die moeilike tye af met tye van oorvloed om ons op aarde krag te gee om voort te gaan. Dan kan die gelowiges uitbundig wees oor sy goedheid en seën. Hulle kan Hom dan prys omdat hulle sy goedheid ervaar in tye van oorvloed.
1 – 5 : Die lofsang kom God toe omdat Hy uit soewereine genade goed was vir sy volk. Die goedheid van God bring sy volk in stille, woordelose verwondering en aanbidding. As Hy uitkoms gee na tye van nood, moet die geloftes wat aan Hom gedoen is nie vergeet word wanneer dit weer goed gaan nie. Hy is die God wat gebede verhoor. Almal in die wêreld moet dit leer, veral as hulle sien hoe God sy kinders se gebede beantwoord. Daar is tye wat ‘n gelowige, of die volk van God as geheel, toelaat dat bepaalde sondes ‘n oorhand oor hulle kry. Dan tugtig God hulle en kom hul in groot nood. Wanneer hulle dan weer hul sondes bely en laat staan, vergewe Hy en voorsien Hy weer. Dit is ‘n onverdiende voorreg om ‘n kind van God te wees en sy weë met ons te beleef. In die wyse waarop Hy straf, seën, voorsien of selfs oorvloed gee, leer sy mense Hom ken. Hulle besef dan dat dit ‘n voorreg is om so ‘n God te ken en Hom te beleef in sy tempel. Hy is die hoorder van gebed. Wanneer God uitkoms gee in antwoord op gebed, groei mense se vrymoedigheid om weer na Hom te kom in die gebed. Hulle ontdek dan dat geestelike versadiging belangriker is as die seën op materiële gebied. God het hulle oortredinge versoen sonder dat hulle dit verdien het. Hulle kan nou voortdurend in sy teenwoordigheid lewe!
Verse 6 – 9 : God se optredes dwing respek af by sy volk, maar selfs ook by die res van die wêreld. Alle mense kan leer om God te vertrou as hulle oë oop is vir die openbaring van Homself deur kragtige optredes van straf of seën. Die geregtigheid wat na vore kom in sy optrede teenoor Israel bring heilige ontsag vir God by die ander volke. Hy tree kragtig op in en deur die natuur, en ook in verlossinge wat Hy vir sy volk bewerk. Die droogte was ‘n tugtiging van God. Na vergifnis word die straf opgehef en verander in oorvloedige voorsiening. Verlossing van Israel se vyande in die verlede toon dat God nog steeds beheer het oor al die nasies. Die stewigheid van die berge openbaar sy almag. Hy wat die bruisende see geskape het, kan dit maklik stilmaak. Hy bestuur die voortbestaan van dag en nag. Hy kan droogte beveel en ook strome water wat ‘n goeie oes bring.
10 – 14 : Die Here openbaar sy goedheid in die reën wat Hy gee, in antwoord op gebed, na ‘n lang droogte. Die reën was in oorvloed en die weivelde kan nou baie troppe vee dra. Die weivelde en die landerye, met pragtige koring daarop, verkondig die blydskap van die natuur oor die oorvloedige uitkoms wat die reën gebring het. Dit is asof die natuur juig en sing. Daarom kan die volk van God ook juig en sing. Die oes is oorvloedig. Dit is die kroon op ‘n jaar van seën. Die nasies kan sien God is goed vir sy volk. Hy is die hoorder van gebed. Almal moet dit raaksien, en kan ook met vrymoedigheid in gebed na Hom toe gaan.