BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 66
LOFLIED NA VERLOSSING !
Hierdie psalm sluit aan by die vorige. Waar die vorige ‘n loflied was vir oorvloedige reën, is hierdie een lofprysing uit dankbaarheid vir die verlossing uit die greep van vyandige mense. God het ‘n magtige uitredding bewerk en die volk kan weer gerus wees. Die verlossing van sy volk uit die juk van die vyand, is ‘n getuienis van God se getrouheid en verlossingskrag. Hy is die Almagtige wat heers oor al die nasies. Die hele wêreld kan die werke van God sien en Hom ook so leer ken en Hom prys. God werk op so ‘n wyse met Israel dat Hy Hom ook daardeur aan die nasies openbaar. Sy magtige verlossingsdade aan sy volk is ook ‘n sendingaksie teenoor die ander volke. Hulle kry die boodskap deur net te kyk hoe God Israel verlos. As hul geestelike oë so oopgaan vir wie God is, sal hulle die ware God leer ken, in Hom glo en Hom saam met sy volk prys.
Verse 1 – 7 : Al die inwoners van die aarde word opgeroep om in Israel se vreugde te deel en God te loof. Sy Naam moet deur sang geëer word. Sang is gesprek met God. Daarin moet God geprys word vir die grootheid van sy krag en die wonder van sy werke. Hy openbaar Homself in sy dade. God se groot krag onderwerp sy vyande. Daarom behoort die hele aarde God te aanbid en te loof. Uit heilige ontsag vir God vloei aanbidding. Uit groot dankbaarheid vir sy verlossing vloei spontane lof. Daarom is die hele psalm in jubelende toon geskryf. Die vreugde en dankbaarheid kan nie binne gehou word nie. Dit is te groot! Dit moet uitbasuin word! Die hele wêreld moet dit hoor en saam begin deelneem aan die lof! Hy wat vroeër die volk deur die Skelfsee en die Jordaan laat trek het, het weer wonders gedoen. Daarom weet die gelowiges God sal ook in die toekoms weer uitred. Hy is dieselfde God wat Israel uit Egipte verlos het en tot in Kanaan gebring het. Hy heers oor die nasies en hou hulle dop. Daarom is dit dwaas om teen hierdie God te rebelleer.
Verse 8 – 12 : God het sy volk getoets, soos silwer gelouter word, met die doel om hulle te reinig. Dit was asof hulle in ‘n net vasgevang was deur die vyand, en onder baie druk verkeer het. Die vyand het hulle vir ‘n tyd verdruk en mishandel. Waar oorwinnaars gewoonlik oor die liggame van hul gevangenes na ‘n oorlog ry, het hierdie vyand oor hulle hoofde gery. (OV, ook Jing James Version) Die verdrukking was onmenslik en hard. Hulle kon dit nie meer verduur nie. Die vervolging was soos strome water wat hul meesleur en vuur wat hulle brand. Toe het hulle die Here aangeroep en beloftes aan Hom gemaak as Hy sou help.
Verse 13 – 20 : Die digter praat nou verder in die eerste persoon, maar verteenwoordig so direk elke lid van die volk wat vol dankbaarheid is. Elkeen beleef direk en persoonlik die vryheid van die verlossing. Daarom moet elkeen nou uit dankbaarheid brandoffers bring en getuig van God se goedheid. As gebed verhoor is, bring dit die gelowige tot aanbidding en lof! Almal moet luister na die getuienis oor wat God gedoen het. God word in die middelpunt geplaas deur getuienis en lofsang. Die verlossing kom alleen van Hom af. Hy moet dus al die eer kry wat Hom toekom. Die gebed uit ‘n opregte hart word verhoor. “Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed!” (OV) Dit is die rede vir die feesvieringe. God luister na gebed en is die verhoorder van gebed. Al neem dit dikwels ‘n tyd in die verdrukking voor Hy reageer. Wanneer Hy reageer en optree, sien die volk weer dat hulle die lewende God dien. Daarom het Jesus ook veel later gesê dat sy dissipels bly sal wees as HY hul gebede verhoor in die tydperk wat Hy nie meer op aarde by hulle sal wees nie (Joh. 16:23-24).
God dan antwoord op gebed, moet sy kinders aan hul blydskap uiting gee deur getuienis en lofprysing. Hulle moet uitbundig en onbeskaamd sy lof verkondig sodat die wêreld kan weet dat God hulle verlos het en hul gebed verhoor het. Soveel te meer moet ons as Nuwe Testamentiese gelowiges getuig van ons ewige verlossing in Christus, en ook van sy daaglikse voorsiening in antwoord op gebed. So word God se goedheid verkondig aan die mense rondom ons.