BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 67
GESEËND OM ‘N SEËN TE WEES !
Dié psalm is ‘n danklied by die oes. God se genade word aan Israel geopenbaar in die natuur, sowel as in kragtige verlossinge van vyandige volke. Albei is ‘n kragtige getuienis van die liefde en betroubaarheid van die God van Israel voor die oë van die nasies, sodat hulle ook God kan leer ken en Hom saam met sy volk aanbid en prys! In hierdie psalm gaan dit veral oor God se goedheid en seën in die gee van ‘n goeie oes. Die psalm getuig van die feit dat God se seën aan Israel die nasies nooi om ook hierdie God te leer ken en in sy wyse van optrede met Israel sy grootheid en goedheid raak te sien. Dit is moontlik by die pinksterfees gesing as die eerste deel van die oes ingebring is. Dit is ‘n kragtige simbool van die geestelike Pinksterfees waar ander nasies die God van Israel sal leer ken en saam met God se volk van sy groot dade sal getuig (Hand. 2).
1 – 4 : Die priesterlike seën van Num. 6:24-26 vind sy vervulling in God se voorsiening deur dit wat die aarde oplewer. God kry daarvoor al die eer. Dit is God se aarde en Hy het vir sy volk ‘n land gegee wat oorloop van melk en heuning. God wil aan sy volk genade openbaar, want dit is sy karakter. Hy is ‘n genadige God wat graag wil seën. Hy wil sy voortdurende teenwoordigheid aan sy volk openbaar as vervulling van sy verbondseën aan Israel. As Hy sy aangesig oor hulle laat skyn, is dit die openbaring van sy vriendelikheid en persoonlike intieme verhouding met hulle. Hy beskerm sy volk teen hul vyande, maar voorsien ook in hul basiese en alledaagse behoeftes. Die oorvloedige oes is ‘n teken van die milde seën van die Here. Hul gebed is dat God hulle altyd so sal seën op grond van sy genade. Hy wil sy mooi gesindheid teenoor hulle toon in praktiese sorg aan hulle. So openbaar Hy Homself ook aan die nasies as ‘n barmhartige God wat jammer is vir mense. Hy gee om. In die wyse waarop Hy met sy volk werk, kan die nasies ook sy weë leer ken. God het ‘n bepaalde manier van werk met sy kinders en dit is so anders as die afgode. God neem die inisiatief in die uitspreek en vervulling van seën oor sy volk. Hy verlos hulle wat aan Hom behoort en beskerm hulle, terwyl Hy ook in hul daaglikse behoeftes voorsien.
Verse 5 – 8 : Die nasies sal bly wees om so ‘n regverdige God te leer ken. Die manier wat Hy dinge op aarde laat gebeur, wys dat Hy regverdig optree teenoor al die nasies. Almal wat Hom liefhet en dien, sal sy goedheid beleef. Hy straf tot in die vierde geslag van dié wat Hom haat, maar bewys sy liefde tot in die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet. Hy tree regverdig op in al sy beslissings, selfs wanneer Hy seën en straf. Daarom sal die volke Hom loof. Dit sal gebeur. Dit word ‘n profesie. Soos God Homself al meer voor die oë van die nasies openbaar met sy optrede in die wêreld, sal mense uit alle volke dit raaksien en begeer om deel van die volk van God te word. Veral sy optrede teenoor sy eie volk word ‘n kragtige sendingaksie na die wêreld. Dit is letterlik vervul in die geskiedenis van die wêreld. Teen die tyd dat die Heilige Gees uitgestort is op baie nasies op pinksterdag, was hulle reeds daar omdat die belofte vervul is. Baie heidene uit verskillende nasies het die God van Israel begin dien, en het saam met sy volk gewag vir die koms van die Messias en die beloofde uitstorting van die Heilige Gees (Joël 2). Die groot oes van die nasies was die magtigste uitdrukking van God se genade. Die wat ver was, kon nou naby kom deur die bloed van Christus (Ef. 2:13-21). Die lig van die aangesig van God wat oor Israel geskyn het, het weerkaats na al die nasies. Die Heilige Gees word tydens en na pinkster oor al die nasies uitgestort wanneer hulle in Christus glo, sodat Petrus na die bekering van die gesin van Kornelius sê: ”Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang”. Die goeie oes op die lande was maar net ‘n voorloper en heenwysing na die groot oes wat sou kom. Die seën – belofte van Num. 6 word telkens weer deur God aan sy kinders vervul in tydelike en geestelike reën. God se voorsiening in die tydelike en ewige oes in die verlede is ‘n bewys dat Hy dit weer sal doen. Daarom sluit die lied af met die vaste wete: ”God SAL ons seën en al die eindes van die aarde sal Hom vrees”. (OV)