BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS: Psalm 68
GOD IS ONS GOD VAN VERLOSSING !
Hierdie Ppalm is ‘n lied van oorwinning van die Here oor sy vyande. Dit gaan oor die Here se oorwinning oor die vyande van sy volk in die verlede en in die toekoms. Dit kan dus in twee groot dele opgedeel word:
Die teenstelling tussen die verlossing en seën wat die regverdiges van God se kant af belewe, en
Die ellende wat oor die mense gaan kom wat teen God en sy volk wil veg, word duidelik beskryf.
gelowiges deel in die oorwinning van die Here in die verlede, hede en toekoms. Sý oorwinning is húlle oorwinning. Hulle wat eers gevangenis was van die vyande van God, beleef vrymaking van hul vyande en hul deel in die buit wat van die vyande afgeneem word. buit word verdeel tussen die kinders van God en so ontvang hulle gawes wat gratis hul deel word. Dit is ‘n beeld van die finale oorwinning van Christus aan die kruis oor al sy vyande, waarná Hy geestelike gawes aan sy lidmate van al die Nuwe Testamentiese gemeentes sal uitdeel (Ef. 4:1-16).
Verse 1 – 7 : Die gedig begin met die strydkreet van Israel in Num. 10:35. In die verlede het God saam met sy volk getrek met die verlossing uit Egipte. Die wolkkolom en die vuurkolom was hul beskutting. As die Here tot die stryd toetree, is die uitslag verseker. Hy verdryf die vyande so maklik soos wind rook verdryf. Voor sy aangesig smelt die vyande weg soos was in die vuur. Teenoor die ondergang van die goddelose, word die volk van God verlos en uitgelig in oorvloed. Hy het aan hulle die land van oorvloed belowe. Hulle is as gevangenes bevry en in oorwinning in die land van volheid ingelei. Die regverdiges is bly en juig voor die aangesig van God. Die aangesig van God is ‘n bedreiging vir die goddelose, maar rede tot vreugde en lofprysing vir die gelowiges. Hy is die oorwinnaar vir wie die pad gelyk gemaak word vir sy optog van triomf. Hy oorwin sy vyande en deel die buit met sy kinders. Hy is meer as ‘n God vir hulle. Hy is ‘n Vader wat die magtelose beskerm. Hy gee om vir die weduwees en weeskinders. Hy laat die eensames deel word van sy groot gesin. Hy lei die gevangenis uit in voorspoed. Daarteenoor laat Hy hulle wat Hom weerstaan, swaarkry sodat hulle die vrug van hul sondige gesindheid kan pluk.
Verse 8 – 11 : Die gedig getuig van God se teenwoordigheid in die woestyn na hul uit Egipte uitgetrek het. God het in die woestyn vir hulle gesorg. Hy het hulle telkens versterk wanneer hulle moeg geword het. Hy het hulle opgebeur wanneer hulle moedeloos geword het. Hulle het voor die aangesig van God getrek in die woestyn. God se teenwoordigheid was hulle krag en behoud. In Sinaï het Hy homself kragtig en direk aan hulle geopenbaar. Hy was vir Israel ‘n lewende werklikheid. Dit alles was die openbring van God se goedheid aan ‘n volk wat in ellende verkeer het in Egipte.
Verse 12 – 19 : Deur die Woord van die Here is die oorwinning met die intog in Kanaän voltrek. Met elke oorwinning oor konings en nasies in Kanaän is die goeie nuus deur die gesange van die vrouens verkondig. Ook hulle het deel gekry aan die buit. Die Almagtige het die oorwinning oor die konings gegee, soos die lied van Debora getuig het (Rigt. 5). Die huisvroue het die buit verdeel na elke oorwinning. Die rustigheid van die duiwe met hul pragtige kleure, waarop die son skyn as hulle tussen die veekrale lê, is ‘n beeld van die veiligheid wat God aan die volk gee na elke oorwinning. Met die oorwinning oor hul vyande het God die berg Sion uitgekies om daar in die midde van sy volk te woon. Al het die Here ook oorwinnings gegee op die berg Basan in die noorde, het Hy kom woon op Sion. Soos die Here “opgegaan het” om op die berg Sion in die hoogte te gaan woon, sou Hy later opvaar na die hemelse Sion, na Hy sy vyande aan die kruis in die openbaar ten toon gestel het, en daardeur oor hulle getriomfeer het. Dit was die finale oorwinning voordat Hy vir ewig in die hemelse heiligdom gaan woon het. Uit Egipte het Hy hul as gevangenis bevry en van Sinaï na Sion gelei. Dit beteken dat Hy sy volk saamneem op die weg van oorwinning tot by die finale oorwinning. Van Sion het Hy hul geneem na Golgota en van Golgota sal Hy hul neem na die ewige hemelse Sion (Hebr. 12:22-23).
Verse 20 – 36 : In elke fase van die oorwinningstog saam met God, moet Hy geprys word! Hy is die God van vele verlossinge, en gee uitkoms teen die dood wat telkens sy kinders bedreig. Hy sal die dood finaal oorwin. Hy sal die kop van die vieslike vyand finaal verbrysel (Gen. 3:15). Daarom moet daar telkens fees gevier word. In die byeenkomste van die volk van God moet Hy geprys word. Dag na dag dra Hy sy volk. God gee krag en sterkte vir elke stryd. Hy deel in die Nuwe Testament tydelike en geestelike gawes uit. Die geestelike gawes van die lidmate van die liggaam van Christus is vir die opbou en uitbou van die gemeente. By die finale oorwinning sal al die koninkryke God uiteindelik eer. Uit al die nasies sal mense wil deel word van die verlossingswerk van die God van Israel. Hulle sal wil deel kry aan sy ewige oorwinning. Hulle sal tot alles in staat wees deur die God van Israel wat hulle die krag gee. Psalmsing, want Hy hét oorwin en sál finaal oorwin!