Ps 69 Verlos my van onverdiende ellende

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 69

VERLOS MY VAN ONVERDIENDE ELLENDE !

Dié psalm handel oor onnodige lyding wat Dawid as toegewyde gelowige onnodig deurgegaan het as gevolg van valse beskuldigings, wat vyandige mense só slinks versprei het dat ‘n groot deel van die bevolking dit geglo het en baie mense hom nie meer vertrou het nie. Die bedreiging was so erg en lewensgevaarlik dat dit vir Dawid duidelik was dat nét God hom uit die situasie kan red. Eie verduidelikings en eerlike antwoorde op vrae word deur die satan omgedraai dat dit groter misverstande veroorsaak. Die satan het daarin geslaag om die situasie so te skep dat enigiets wat Dawid sou probeer doen om die waarheid te verkondig, tot groter agterdog teen hom sou lei. Die aanklagte was op die ou end ook teen God self gemik en om skade te bring op die Naam van die Here. Dawid wend hom, soos altyd, tot gebed en vertrou op die genade, grootheid en goedheid van die Here. Die betroubaarheid van God se karakter gee vir hom die sekerheid dat Hy sal ingryp en hom verlos. God moet sy vyande laat oorkom wat hulle vir hom beplan het. Hy begin God alreeds te prys omdat hy weet dat Hy hom en die volk van die bedreiging sal verlos sodat die toegewyde gelowiges dit sal sien en bly wees! Christus het die meeste uit hierdie psalm aangehaal. Hy het dieselfde stryd as Dawid beleef; net veel erger. Baie van die inhoud van die psalm is later in Hom vervul.

Verse 1 – 13 : Die erns van die krisis wat deur valse beskuldigings van valse mense gemaak is, het ‘n krisis veroorsaak wat groter is as wat Dawid kon verwerk en hanteer. Hy het ook geen menslike oplossing daarvoor nie. Sy teenstanders wat hom onnodig wil vernietig, is meer as die hare van sy hoof. Hy is soos iemand wat in ‘n put met modder gegooi is en die modder word al hoe meer. Selfs van sy familielede het in hom begin twyfel. Hy besef hy is self nie sondeloos nie en verdien eintlik lyding as tug. Tog het hy die onderskeiding dat hierdie aanvalle nie God se tugtiging is nie, maar juis aanvalle omdat hy God in opregtheid wil dien. Inteendeel, die aanvalle kom juis omdat die ywer vir die huis van die Here hom verteer het. Hy word deur die mense wat nie onderskeiding het nie, gespot. Dronkmansliedjies word oor hom gesing. Baie het hulle respek vir hom verloor.

Verse 14 – 30 : Dawid ken die mees basiese oplossing vir elke krisis, naamlik gebed. Eintlik ook nie gebed nie, maar die Here! Daarom sê hy: “My gebed is tot U, o Here!” Hy bid op grond van God se genade, goedheid en trou. God se goedheid is groot en Hy is getrou in sy verlossing. Hy sal dus nie sy kinders in die steek laat wanneer hulle verlossing nodig het nie. Hy vra die Here moet hom red van die modderput waarin hy is weens die haat van sy vyande. Die teenstanders is hard en genadeloos, maar God is sag en genadig teenoor sy kinders. Oor en oor maak hy in sy gebed staat op die goedheid van God se liefde en die grootheid van sy goedertierenheid. Sy situasie is kritiek. God moet gou maak, want hy is in groot gevaar. Hy is benoud en vol spanning. Christus sou ook veel later hierdie benoudheid in Getsemane ken. Die situasie is naby die punt waar die modder oor sy kop sal gaan en hy ondergaan. Daarom vra hy dat God hom gou moet red. Daarby het hy ook innerlike wonde, want hy is seergemaak, verkleineer en in die openbaar beledig. Hy was verbaas dat mense, van wie hy hulp en troos verwag het, geen meegevoel met hom het nie. Vir sy honger het hulle hom bitter gal gegee en vir sy dors asyn. Hulle was so sonder meegevoel dat, toe hulle hom kon help, het hulle liewer die lyding aangehelp. Dit openbaar die aaklige wreedheid en genadeloodheid van die gevalle mens wat nie die Gees van God het nie. Daar is ‘n duiwels- geïnspireerde haat in die goddelose se natuur vir die regverdige. So het Christus dit eeue later aan die kruis ook beleef. Dawid bid dat die wreedhede wat hulle aan hom toegevoeg het, hulleself sal tref. Dit is die logiese straf van ‘n regverdige God. Laat dit wat die goddelose aan ander wil doen, homself tref. Niemand sal daarmee kan verskil dat dit regverdige straf is nie.

31 – 37 : As God ‘n regverdige verlossing gee, sal Dawid die Here loof. Die wat saam met hom gely het en saam met hom by God hulp gesoek het, sal Dawid se lied hoor en saam bly wees. Laat die hemel en die aarde God prys omdat hy regverdig ingryp en verlos. Die nageslag van die gelowiges sal deel in God se verlossing. God sal Sion verlos! Almal wat die Naam van die Here werklik liefhet, sal deel in die vrug van sy verlossing. Die grootste verlossing waarvan ons erfgename kan wees, was op Golgota.

(Visited 88 times, 1 visits today)