BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 70
HELP GOU HERE !
Dié psalm is waarskynlik bedoel as ‘n vinnige skietgebed in tye van nood. Dit is byna dieselfde as Psalm 40:13-18. Dit is ook moontlik dat dit as ‘n kort lied gebruik is in die erediens. In elk geval is dit ‘n kort dringende uitroep tot hulp wanneer daar nie tyd is vir lang gebede nie. Wanneer ‘n mens in ‘n krisis verkeer, kan jy dikwels nie helder dink nie en kan die gebed gebruik word as ‘n skietgebed. Dit is ‘n baie intense en desperate gebed van iemand wat in groot nood verkeer. Die feit dat die psalm ook gebruik is by die gedenkoffer, beteken dat die bidder wil hê dat die Here aan hom SAL DINK IN SY NOOD. Die gedenkoffer was spysoffers wat die Here se aandag op die bidder moes vestig. Die offer is saam met wierook verbrand, wat dui op gebed. Die spysoffers het getuig daarvan dat God voorsien. Hý is die een wat aan die persoon wat aan Hom oorgegee is, sal voorsien. Die volle oorgawe van die bidder is versimboliseer deur die brandoffer. Daarom is die brandoffer altyd opgevolg met die spysoffer, wat ‘n gedenkoffer is. Die gelowige wat ten volle aan God oorgegee is, vertrou God om dan in elke aspek van sy lewe te voorsien. Dawid vertrou dus op dié God wat hom sal versorg en onderhou, veral in groot nood.
Verse 1 – 2 : Hy begin met die uitroep ”O God!” Dit openbaar die digter se gerigtheid op God alleen, asook die emosionele intensiteit waarmee hy na God roep. Dit is ‘n dringende gebed. Die redding moet gou kom; anders is dit te laat. Menslike hulp alleen is nie genoeg nie. Die bedreiging is so groot en erg dat net God hom kan verlos. Die ingryping moet gou gebeur. Dis al byna te laat. Hy vra dat die Here hom sal help. In Psalm 118:7 lees ons: ”Die Here is vir my ‘n Helper”. Hy druk sy behoefte in twee woorde uit: redding en hulp. Redding beteken dat die Here hom weggryp voor aanstormende gevaar. Hulp beteken dat die Here hom moet bystaan omdat hyself nie die vermoë het om uit die gevaar te ontvlug nie.
Verse 3 – 5 : Hy druk verder sy versoek om redding en hulp uit in drie direkte en praktiese gebede. (Sien 1953-Vertaling)
Eerstens moet die Here die aanval van sy vyande stuit en hulle laat agteruit vlug tot hul vernedering. Hulle moet rooi word van skaamte (teleurgestel in hul verwagting) omdat hulle wat Dawid se ongeluk gesoek het, in angs self op die vlug moet slaan. God moet dit laat gebeur.
Tweedens moet die Here dit laat gebeur dat die vyand se arrogante gelag (dié wat hom spot) gestop sal word wanneer hulle gedwing word om te vlug.
Derdens moet God dit laat gebeur dat die gelowiges, wat God soek, vrolik en bly sal wees oor God weens sy regverdige optrede teen die vyande van die gelowige. Wanneer God die oorwinning aan sy kinders gee, besef hul telkens hoe groot God is en gee aan Hom al die eer.
6: Teenoor die selfvoldane houding van die goddelose is Dawid weerloos en kwesbaar. As God hom nie help nie, sal hulle hom vernietig. Daardeur besef hy sy eie onvermoë en behoefte aan die hulp van God. Hy vra weer die tweede keer dat God hom “gou” moet help. Dit wys op die dringendheid van die situasie. Sy ondergang is naby as God nie ingryp nie. Mense- oplossings is daar nie meer nie. Net die almagtige God kan nou nog iets doen. Hy vra duidelik vir ‘n ingryping van God. Die Here moet tog nie langer uitstel om hom te help nie. Dit is ‘n dringende smeekgebed. Dit is nie rustige aanbidding of algemene versoeke wat mettertyd beantwoord moet word nie. God moet dringend ingryp omdat die krisis groot is. Dawid het die geheim van smeking geken. Dit is wanneer die bidder op een saak fokus en God so aanhoudend, herhaaldelik en direk daaroor aanroep, dat God “gedwing” word om te antwoord.