Ps 71 Red my deur U geregtigheid

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 71

RED MY DEUR U GEREGTIGHEID !

Lees ook Jes. 46:3-5.

Alhoewel die psalm dit nie sê nie, is dit waarskynlik ‘n psalm van Dawid of ‘n samestelling van verskillende psalms van Dawid. Dit haal byvoorbeeld heelwat uit ander psalms aan. Die tema gaan duidelik daaroor dat God se geregtigheid die basis is waarop die digter bid om verlossing. Die bidder is alreeds gevorderd in jare en het nie meer die lewenskrag van vroeër nie. Daarom moet die Here hom soveel te meer bystaan en beskerm. Die ondervinding wat hy in ‘n lewe van stryd en krisisse met die Here verkry het, gee vir hom genoeg rede dat die Here hom nou ook sal verlos, al voel dit vir hom of die Here hom verlaat het. Die Here bly vir hom die vaste rots waarheen hy kan vlug en en op wie hy kan vertrou. Selfs sy vyande dink al die Here het hom verlaat, want daar is nog geen reaksie van God se kant af nie. Hy weet al voor die tyd dat sy gebed op ‘n stadium sal oorgaan in lofprysing as die Here hom verhoor.

Verse 1 – 13 : Die gedig begin met die keuse wat die digter, soos altyd, maak om by die Here te skuil. Dan bid hy dat die Here hom nie nou moet faal nie, want dan sou al die vorige verlossings wat tot eer van God was, deurstreep word met een keer wat God nie volgens beginsels van geregtigheid opgetree het nie. Terwyl hy nou oud geword het, word hy nog steeds bedreig en groot druk word op hom geplaas. Die onregverdiges sal hul verbly as hy vernietig word sodat almal sien God is nie met hom nie. Hy is diep afhanklik van gebed, want daarmee druk hy sy keuse uit om by die Here te skuil. Hy het van jongs af op die Here vertrou en die Here het hom nie in die steek gelaat nie. Vir baie was sy lewe soos ‘n wonderwerk soos wat God hom deur- gedra het. Sy vyande is God se vyande. Sy stryd is God se stryd. Hy is God se vegter vir geregtigheid. Die goddelose beplan die finale slag teen hom, want hulle glo God het hom nou in sy ouderdom verlaat. Hy val egter juis terug na God se verlossingsdade in die verlede. Hy bid dat God naby hom sal wees en hom gou sal help. God moet die bevel gee dat hy verlos sal word. Dit hang nie af van mense se krag of besluite nie, maar eerste van God se besluit. Geen mag kan teen God standhou nie. As sy gebed beantwoord is, is die oorwinning reeds daar. Die Here is ‘n Rots wat altyd beskikbaar is. Hy kan enige tyd daarin vlug, en soveel kere as hy wil. God is ook ‘n hoorder van gebed. God is verder ook die almagtige Verlosser. Niks is vir hom onmoontlik nie. Die goddelose hou van geweld en het geen respek vir mense se lewens nie. Hulle is ernstig om hom dood te maak. Daarom is sy gebed reguit en duidelik. Daarom soek hy dringende hulp en kragtige optrede, sodat sy výande beskaamd sal staan, en nie hý wat openlik voor die hele wêreld sy vertroue op God stel nie.

Verse 14 – 24 : God se geregtigheid en sy getrouheid in die verlede gee vir hom vaste hoop. Hoop kan ook vertaal word met “wag met verwagting”. Geloof is gebaseer op God se ewige betroubaar-heid. Hy sal weer getuig dat God se geregtigheid die rede was waarom hy weer gered is. God se geregtigheid is so volmaak en groot dat dit bokant sy menslike begrip is. Dit is egter oor die jare oor en oor aan hom geopenbaar sodat hy daardeur geestelik volwasse geword het. Die ewige karaktertrekke van God het Dawid se geloof in God onwrikbaar gemaak. God kan nie verander nie. Al het hý ouer geword, God bly diesefde. Hy sal getuig van God se magtige dade wat gegrond is in sy onveranderlike geregtigheid. Die magtige dade kom van die “Here Here” af. Die eerste woord beteken dat die Here die Heerser oor alles is, die tweede dat Hy die getroue Verbondsgod is wat sy volk sal verlos. God se optredes is wonderdade wat sy almag openbaar. God het van kleins af met Dawid ‘n pad geloop. Dit was ‘n skool van ‘n leeftyd in baie verskillende ervaringe. In alles het God homself al meer en meer aan Dawid in die praktyk geopenbaar. Die Here was getrou in die verlede, en tot op die hede. Daarom is daar geen logiese rede om te dink dat Hy nie in die toekoms getrou sal wees nie. Dawid het deur baie slegte en vreesaanjaende toetse en beproewinge gegaan. Dikwels het hy gewanhoop aan sy lewe. Nou weer is die bedreiging tot die dood toe. Dis asof die Here hom uit die dood lewend moet maak. In plaas daarvan dat hulle sy koningskap wil verneder, moet God dit groter maak, sodat hulle skaam kan word. Daardeur sal die almag en geregtigheid van God voor die oë van die hele wêreld geopenbaar word. Gebed gaan altyd oor in lofsang as die hart van die gelowige agterkom dat sy gebed verhoor is. Hy kan al vooruit sien hoe hy God gaan prys en aan Hom al die eer gee.

(Visited 68 times, 1 visits today)