BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 73
VOLHARDING IN GELOOF IS DIE MOEITE WERD !
Die Psalms bestaan uit 5 groot boeke. Hierdie psalm is die eerste psalm in die derde boek van die Psalms. Dit is ‘n psalm van Asaf waarin hy sy innerlike stryd bekendmaak. Dit gaan oor die feit dat waarheid en praktyk nie vir hom bymekaar kom nie. Hy ondervind nie die seën van gehoorsaamheid nie. Inteendeel, hy beleef dat God hom aanhoudend tugtig en laat swaar kry, terwyl hy die Here in opregtheid en reinheid van hart dien. Daarenteen sien hy hoe goed dit met die goddelose gaan en hoe florerend is hul hele lewe. Hyself moet stoei om te oorleef, en alles wat sleg is wat met hom gebeur, verwerk, terwyl hulle lui-lekker die lewe geniet en geen teenspoed ken nie. Wanneer hy egter in die heiligdom ‘n geestelike openbaring ontvang sodat hy alles vanuit ‘n geestelike perspektief bekyk, sien hy dat hyself eintlik ryk is in die Here en dat die Here self sy rykdom en vervulling is. God self is vir hom meer werd as enigiets op aarde, of selfs in die hemel.
Verse 1 – 14 : Asaf begin met die getuienis dat God baie goed is vir Israel, soos hy dit in die heiligdom besef het. Hy begin dus eers met die antwoord en stel dan sy probleem en stryd wat hy gehad het. Hy vertel vanuit ‘n hart wat reeds die antwoord gevind het. Hy het begin struikel deur God en die waarheid van sy Woord te bevraagteken. Hy gee ook dadelik en duidelik die rede daarvoor. Hy was afgunstig op die ligsinnige en goddelose mense met wie dit op alle gebiede so goed gaan. Dit lyk of hulle totaal sorgeloos is en geen moeite hoef te doen om genoeg te hê om gemaklik te leef nie. Hulle dink ook dat hulle oor ander mense kan regeer en hul geld gebruik om ander te beheer en te manipuleer. Hul liggame wys dat hul gesond en vet is en dat hulle sonder spanning lewe. Alles loop net altyd vir hulle reg. Hulle raak so hoogmoedig dat hulle selfs met geweld uit ander mense kry wat hulle wil hê. Alles gaan net om hulleself en hulle doen en sê wat hulle wil. Hoewel hulle erken dat daar ‘n God is, is Hy vir hulle ver en afwesig. Hulle moet hul eie toekoms bewerk en beheer. Alles gaan vir hulle om die vermeerdering van rykdom en hulle is ook nog suksesvol daarin. Daarteenoor beleef Asaf dat hy geen voordeel kry uit sy skoon lewe nie, en dat hy net deur God getug word. Hy ondervind nie God se goedheid in sy alledaagse lewe nie. Daar is geen seën op sy gehoorsaamheid nie. Die goddelose raak vermetele dinge kwyt teen die Here en kom niks oor nie.
Verse 15 – 28 : Hy stry in sy binneste oor die oënskynlike onreg in die wêreld en spreek nie sy gedagtes van twyfel uit voor die wêreld nie, want dan sou hy skade doen aan die eer van die Here. Hy het oor al die dinge nagedink, maar kon nie by ‘n antwoord uitkom nie. Inteendeel, dit het hom moeg gemaak. Hy het egter in gemeenskap met God in die heiligdom ‘n openbaring van God gehad, sodat hy toe skielik anders na die hele situasie begin kyk het. God het aan hom geopenbaar dat dit nie enduit met die goddelose goed sal gaan nie. God gee in sy goedheid vir hulle tye van voorspoed en wil hê dat hulle Hom moet leer ken. Hulle sien dit egter nie raak dat alle seëninge van God af kom nie en hulle raak al meer arrogant in hul houding teenoor die Here. Die Here verdra dit net tot op ‘n punt. Dan gee Hy hulle oor aan hul eie planne en onttrek sy seën van hulle. Hulle het dan niks om op terug te val nie en daarom is hulle val groot. Hulle einde is tragies en hulle vergaan dan tot niks. Mense is dan verbaas oor die hulpeloosheid en sinloosheid waarin hul lewe eindig. Die goddelose se lekker lewe is soos ‘n mooi droom wat tot ‘n einde kom. As die verganklikheid en lyding van die lewe oor hulle pad mislukking en ellende bring, stort hulle kaarthuis inmekaar. Asaf erken dat, selfs toe hy opstandig en gefrusteerd was oor hoe die Here sy lewe laat afloop, was hy steeds in gemeenskap met God en het God sy hand gevat. Hy was dikwels bitter ongelukkig, maar dan het hy geweet die Here het hom steeds nie verlaat nie. Nou weet hy die Here lei hom in voorspoed en in teëspoed en sal hom deurdra tot hy in die heerlikheid van die hemel opgeneem sal word. Sy einde is verseker by die Here, waar hy in volmaaktheid die heerlikheid van die lewe vir ewig sal beleef. Hy besef nou God self is die vastigheid te midde van die wankelbare lewe op aarde. Die einde van die goddelose is ‘n ewigheid van sinloosheid sonder God. Die einde van die regverdige is die uitvloeisel van sy huidige verhouding met God. Hy beleef nou al die teenwoordigheid van God in sy daaglikse lewe met God. Dit sal uitloop op die ewige “naby God wees” in die lewe hierna. God is die rots van sy hart en sy deel tot in ewigheid. Hy begeer God meer as alles op aarde en in die hemel. God is sy bron en sy einddoel. God is die sin van sy lewe. God self is sy ewige rykdom!