BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 74
DIE HEILIGDOM IS VERWOES !
In die jaar 587 v.C. is Jerusalem en die tempel vernietig en die volk van die Here weggevoer na Babel. Dié psalm van Asaf herleef die skrikwekkende gebeure van daardie tyd soos dit beskryf word in 2 Kon. 24-25. Die psalm is ‘n hartroerende gebed dat God tog weer vir Israel sal opkom en sy toorn van sy eie volk afwend. Die wegvoering na Babel was God se straf oor sy eie volk wat net nie wou hoor nie. God het die teenstanders daarvoor gebruik. Maar hulle het God gesmaad en geterg in die proses. Die digter vra die Here dringend om op te staan en in te gryp, al is dit dan net vir sy eie eer.
Verse 1 – 11 : Die verwoesting van Jerusalem, en daarmee saam die tempel, laat die digter voel asof God sy volk vir altyd verlaat het. Die ongelooflike het gebeur. God het toegelaat dat selfs die tempel vernietig word en dat al die plekke waar die volk God gedien en feeste gehou het, verwoes is. Die vyand het liewer sy eie tekens (aanbiddingsplekke) daar opgesit, plekke waar die afgode nou gedien word. Die digter herroep die geweld wat die volk van God getref het, en die vernietiging van alles wat kosbaar was. Die vergaderplekke is verbrand en daar is geen profeet meer wat namens God spreek nie. Onder al die ellende het God se stem ook stil geword. Jeremia was in kettings en Esegiël in Babel. God het sy teenwoordigheid en krag onttrek van die volk. Hulle is oorgelewer aan die genadeloosheid van hul vyande. Die digter vra waarom God steeds sy hand terugtrek en weier om weer in te gryp. God het egter vooraf die volk herhaaldelik gewaarsku om hulle te bekeer omdat Hy hulle gaan laat wegvoer uit hul land. Hulle wou nie die profete glo nie. Nou is hulle verbaas dat God so ver gegaan het dat Hy regtig gedoen het wat Hy voorspel het Hy sou doen.
Verse 12 – 23 : Nogtans bly God die koning van sy volk. Die digter dink terug aan God se magtige dade van die verlede, waardeur Hy vir Hom hierdie volk versamel het. Die grootste gebeurtenis was toe Hy die Egiptenare in die see laat verdrink het, terwyl die volk droogvoets deurgegaan het. Hy het die water oopgekloof. Hy het die koppe van die Leviatan verbrysel. Die farao en sy leer wat so magtig was, se lyke is deur wildediere opgevreet. Die Here het water uit die rots laat kom en standhoudende riviere laat opdroog. Alles is vir God moontlik. Daarom is daar hoop dat God weer op een of ander wyse kragtig sal ingryp. God is tog die Skepper wat die heelal geskape het en in stand hou. Daarom is dit vir Hom niks om weer sy volk te verlos nie. Die seisoene is ‘n skepping van sy hand. Daarby moet God ook daaraan dink dat die vyand die Here gespot en verag het. Hulle het geen respek vir God nie, want die volk van God is weerloos in hul hande. God heers oor die natuur en die geskiedenis. Al is die volk so weerloos soos ‘n tortelduif in die veld teen wilde diere, moet God steeds sy verbond onthou. Die volk is nêrens meer veilig nie. Niemand beskerm hulle nie. Alleen as God sy verbond onthou en uit sy trou optree, sal die volk Hom weer kan loof. Hy roep God nou aan die einde van die psalm baie direk en kragtig op om iets te doen en in te gryp, op grond van al sy voorafgaande redenasies. Dit wys weer vir ons dat gebed nugter en logiese gesprek met God is. God is nie maar net ‘n krag of ‘n energie wat “getap” moet word nie. Hy is ‘n Wese met wie sy kinders in gesprek kan gaan en wat luister na ons hartsroep, sowel as ons logiese redenasies.
God het die gebed van Asaf en die gelowiges verhoor. Hy het ingegryp. Hy het Babel gestraf en na sewentig jaar het Hy ‘n nie-Jood (Kores) gebruik om sy volk te laat teruggaan, en vyfhonderd jaar later het Hy die Messias gestuur om die volk van hul grootste probleem te verlos, naamlik hul sonde – dit wat die oorsaak was van die ballingskap met al sy ellende. God het Babel ook gestraf soos die psalmis gevra het. Al was die volk ontrou, het God getrou gebly.