Ps 75 God is ons stabiliteit

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 75

GOD IS ONS STABILITEIT !

psalm is die antwoord op die nood en ellende van die vorige psalm. God is die regverdige Regter wat oordeel oor die aarde. Al neem Hy tyd om op te tree, Hy sal op die regte tyd optree in ‘n wêreld vol chaos en goddeloosheid. God self beheer alles in ‘n wêreld wat voortdurend geskud word deur die vrug van die sondeval. Selfs in die tyd wat die volk van God vervolg en verdruk word, sodat hulle weerloos teen al die wêreldmagte staan, beheer God alles wat gebeur. Hy sal op die regte tyd optree teen die vyande wat hulle in dwaasheid self verhef teenoor die Naam van die Here. Hulle dink dat hulle volle beheer het oor hierdie wêreld en dat hulle kan maak wat hulle wil. God sal egter aan hulle die oordeelsbeker gee om te drink tot hulle die volle straf vir hul selfvoldane hoogmoed en goddeloosheid gekry het.

Verse 1 – 8 : Die digter loof die Here omdat Hy naby sy volk is en direk betrokke is by alles wat op die aarde gebeur. Die Naam van God sê dat Hy Almagtig is en dat Hy ‘n God is wat ingryp met kragtige dade, wanneer sy geregtigheid dit vereis. Elohim is die Heerser en Regter en die ware God. (Elohim = Almagtige Regter) Hy moet geloof en gedank word vir die feit dat Hy in sy almag regverdig sal optree op die regte tyd. Daarop kan die volk van God altyd vertrou en hul vastigheid daarin vind. Die Naam van die Here verkondig sy trou en alwyse betrokkenheid by sy volk en selfs sy oordeel oor die goddelose wêreld. Hy laat nie maar net die aarde, wat in sonde geval het, aan homself oor nie. Hy straf dikwels die goddelose al voor die oordeelsdag, om die kwaad teë te hou dat dit nie die wêrel oorspoel nie. Op die regte tyd gryp Hy in met sy regverdige oordeel om te verhoed dat die goddelose nie voor die eindtyd volle beheer oor die wêreld verkry nie. Soos hy die aarde se baan vasgestel het en dit beveel het om daarin te bly, al wankel dit soms, so sal Hy beheer behou oor die wêreld met sy hoogmoedige inwoners en leiers. Die bewoners van die aarde moet nie hoogmoedig raak oor die kortstondige oorwinning wat hulle oor die volk behaal nie. Die skepping self is nie God nie, maar word deur God beheer. Hy verneder sommiges en verhoog die ander. Hy laat toe dat heersers na vore kom en oorwinnings behaal, maar wanneer hulle vol eiewaan en wreedheid ander verdruk, bring Hy hulle weer tot ‘n val. Dan bepaal Hy dat ander weer oorwin en die vorige heersers se mag verbreek. So keer hy die kwaad in die loop van die geskiedenis, sodat dit nie totaal oorneem nie. Hy plaas dus in die ongelowige wêreld wigte en teenwigte om die totale oorname van die goddelose te verhoed. Hy sal egter eers in die eindtyd toelaat dat die wetteloosheid en die Wettelose (Antichris) totaal oorneem, voordat Hy finaal sal ingryp en die kwaad vir altyd sal vernietig.

9 – 11 : God is genadig en barmhartig. Daarom gee Hy die goddelose tyd om hulle te bekeer. Hy is egter ook regverdig en heilig. Daarom het Hy ‘n beker vol skuimende wyn in sy hand. Dit is oorvloedig gemeng met allerhande bedwelmende speserye wat mense bedwelm. Hy skink daaruit aan die goddelose mense en hulle sal dit moet drink tot op die afsaksel onder in die beker. Die oordeel sal volledig uitgedeel word sodat die goddelose die volle straf vir hul hoogmoed en ongeregtigheid sal ontvang. God se oordeel is vol bruisende krag omdat hy geregtigheid wil laat geskied. Maar die digter sal vir ewig deur sy lofliedere die eer van die God van Jakob verkondig. Soos opstandige beeste se krag hulle ontneem word as hul horings verwyder word, so sal die goddelose se krag tot niet gemaak word. Die regverdige sal egter al meer krag ontvang soos beeste se horings wat opgroei na bo en aan hul meer stootkrag verleen. So maak die regverdige staat op die regverdige oordele van God. Dit maak hom sterk in die Here by die wete dat God met krag sal optree. Daarom kan die gelowige ook met onverskrokke krag optree en die Naam van die God van Jakob voor die oë van die goddelose loof. Die kind van God is nie skaam vir sy God nie en ook nie bang vir die goddelose se selfverheffng nie, want op die regte tyd sal God ingryp en hulle tot ‘n val bring terwyl sy kinders voortgaan om Hom te loof en te dank dat Hý hulle stabiliteit is.

(Visited 41 times, 1 visits today)