Ps 76 God openbaar Hom deur verlossing

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : PSALM 76

DIE HERE OPENBAAR HOM DEUR VERLOSSING !

Dié psalm is waarskynlik geskrywe weens die verlossing wat God bewerk het teen die Assiriërs, toe Sanherib die land binnegeval het in die dae van Hiskia (2 Kon. 19). In hierdie verlossing openbaar God Homself magtig teenoor sy eie volk, asook die ander nasies. Die Septuagint het as opskrif: Teen die Assiriërs. Israel was in ‘n hopelose situasie en net ‘n ingryping van God kon hulle verlos. Sanherib het God uitgedaag deur te sê dat God Hiskia en die volk nie uit sy hande sal kan verlos nie, net soos die gode van ander nasies dit ook nie kon doen nie. Hiskia het tot die Here gebid dat Hy moet ingryp omdat Sanherib God beledig het. Hy beroep hom op God se almag omdat Hy bo die gerubs troon en God is oor al die koninkryke van die aarde. God het die hemel en die aarde gemaak en het dus volle beheer oor alles in die hemel en op die aarde. Die Engel van die Here het daardie nag honderd vyf-en-tagtig duisend soldate in die Assiriese kamp doodgemaak en Sanherib is terug na Ninivé, waar hy vermoor is. Die hele wêreld kon sien dat dit gevaarlik is om die lewende God uit te daag.

Verse 1 – 4 : Die digter gee ‘n terugblik op die oorwinning. Die Here het sy Naam groot gemaak onder sy eie volk, en Juda het Hom waarlik in die tyd van krisis leer ken as hul God wat verlos. Hy woon in hul midde in Jerusalem op die berg Sion. Sy teenwoordigheid bring die verlossing en laat die vyand op die vlug slaan. Die aanslag van sterk soldate met vinnige pyle van vuur het Hy verbreek. God se teenwoordigheid in die midde van sy volk is hulle beskerming.

5 – 10 : Die oorwinning word beskryf om God se heerlikheid en krag te besing. As Hy optree, is dit met soveel mag en krag dat dit enige mens laat sidder! God se toorn het ontbrand teen hulle wat Hom gelaster het en daarom het Hy ingegryp en kragtig opgetree. So openbaar Hy Homself ook as ‘n heilige God wat nie sy eer laat aantas nie. Soos ‘n leeu sy prooi bestorm en uitmekaar skeur, het God dié wat Hom uitgetart het, verskeur. Die sterk soldate met hul strydwaens en perde is tot niet gemaak toe God hulle bestraf het. Die aarde het gevrees en stil geraak toe God opgestaan het vir die stryd, wat eintlik ‘n oordeelsoptrede was. Dit is ‘n voorspelling van hoe vreeslik die eindgerig op die laaste dag sal wees. Dan sal God met onbeperkte krag optree teen hulle wat Hom getart het. Hy het die ootmoediges verlos wat op Hom vertrou het. Hiskia het hom verootmoedig voor die Here en gevra dat God hulle tog moet verlos uit die hand van Sanherib omdat hy die lewende God beledig het.

Verse 11 – 13 : Die mense wat teen God in opstand is, sal deur God se optrede gedwing word om Hom te loof. Elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is. Die mense wat nog steeds in rebellie teenoor Hom is, gee ywer aan God om met groter oordeel teenoor hulle op te tree. Hulle sal voor sy almag buig. Hy is God en sal nie toelaat dat nietige mense hul teen Hom groot hou nie. Hy het behae in nederige mense wat hul plek ken teenoor sy grootheid. Geloftes teenoor Hom moet nagekom word. Geskenke moet aan die Ontsagwekkende God gebring word, soos die gebruik in daardie tyd was wanneer ‘n koning genader is. Vir Hom is die konings van die aarde niks. Soos Hy Sanherib en sy mag vernietig het, is dit vir Hom niks om ander ook te vernietig nie. Die aarde moet die grootheid, heiligheid en almag van God besef sodat hulle nederigheid en ootmoed kan leer. Mense wat Hom bevraagteken en wil aanvat, sal tweede kom. Hulle sal altyd die oorlog teen God verloor. Hy sal met geweld hulle hoogmoed en arrogansie teen Hom stop en hulle straf. Hy is nie ons speelmaat nie. Hy is nie gelyk met die mens nie. Die mens moet sy plek ken voor die Almagtige. Hy moet geloof word vir wie Hy is. Hy moet aanbid word en op verskillende wyses moet aan Hom eer gebring word! Die selfvertroue en trots van vorste het Hy tot niks laat kom. Wie kan teen Hom standhou?

(Visited 42 times, 1 visits today)