BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 77
GOD SAL WEER RED !
Die volk verkeer in nood en dit lyk of God hulle vergeet het. Die digter is moeg van bid, sodat hy selfs begin dink dat God hom en sy volk dalk vir altyd verstoot het. Slaaplose nagte, met groot stryd in sy gedagtes, en hardop geroep tot God bring geen uitkoms nie. Twyfelvrae kom so kragtig in sy gedagtes op dat hy meer begin dink oor God as om tot God te bly bid. Hy word selfs ongemaklik met die ontdekking dat hy God al meer begin bevraagteken. Tog kom die antwoord op sy gebede juis in sy gedagtes wanneer hy begin nadink oor hoe God in die verlede ingegryp en uitgered het. Dan sal God dit mos weer doen!
Verse 1 – 10 : Die digter praat direk met God oor die krisis. Hy stel sy verwagting op God om te luister en te antwoord. Hy is benoud oor die bedreiging en steek sy hand uit na God, terwyl hy bid om daardeur uitdrukking te gee aan smeking vanuit hulpeloosheid. Hy is totaal op God gewerp vir uitredding. Die feit dat God nie antwoord nie maak dat hy meer gespanne word en nie kan slaap nie. Nagte se gebed en uitroepe tot God is ook die uitdrukking van sy vertroue op God se karaktereienskappe, naamlik dat God goed en barmhartig is. Het God sy volk vir altyd verstoot en van sy beloftes vergeet? Dit kan tog nie wees nie. Hy bekommer hom oor die feit of God dan verander het. Die situasie forseer hom om na te dink oor God. Diep uit sy hart kom die nadenke oor God. Die feit dat God na soveel geroep nog nie geantwoord het nie, moet ‘n rede hê. Is daar dan die moontlikheid dat God kon verander? Waarom beleef hy God dan nie soos die volk Hom in die verlede ondervind het nie. Sy gees is steeds gerig op God as hy na ‘n oplossing soek. Die spanning raak ondraaglik en sy kragte raak uitgeput. Is God so toornig dat Hy sy barmhartigheid binne-in sy toorn toegesluit het sodat dit nie kan uitkom nie?
11 – 21 : Hy begin nadink oor God se dade in die verlede. Daardeur het God Hom tog duidelik en kragtig geopenbaar. Die volk het God tog so leer ken as die Here wat met kragtige verlossingsdade ingegryp het. Hy is die Here, Jahweh die Verlosser! Dit is sy verbondsnaam. Hy kan tog nie ontrou word aan sy verbond nie. Hy het wonders gedoen wat geen mens kan doen nie. Die werk van die Here het sy heiligheid geopenbaar. Sy optredes het sy karakter bekend gemaak. Sy wonders het sy almag en grootheid verkondig en sy wysheid het sigbaar geword in die manier wat hy opgetree het.
digter se gedagtes oor die verlede laat hom duidelik weer met oortuiging verklaar: ”U is die God wat wonders doen. U het u sterkte onder die volke bekend gemaak. U het u volk met ‘n sterk arm verlos.” weg vorentoe is dus om ook terug te dink aan God se optredes van die verlede, waarin Hy homself aan die volk en selfs ander volke geopenbaar het. God kan nie verander nie (Mal. 3:6). God het nog altyd in absolute onafhanklikheid en unieke indiwidualisme opgetree. Hy is in geen opsig afhanklik van mense of engele nie. Hy kan wel mense of engele gebruik as Hy wil, maar Hy is vry van enige beperkings. Daarom is dit so dwaas om menslik te dink oor God. Sy wil sal geskied in die hemel en op die aarde en geen bedreiging vang Hom onkant nie. Dit wat vir ons ‘n krisis of bedreiging is, is vir God geen bedreiging nie, maar net ‘n geleentheid waarin Hy homself verder sal openbaar. Hy tree in volmaakte wysheid en onbeperkte krag op. Selfs as Hy tyd neem om te antwoord, wil Hy aan sy kinders ‘n les leer. Al lyk dit of Hy te stadig is, is Hy altyd betyds. Niks vang Hom onkant nie. Hy het volmaakte insig oor elke situasie. As Hy die volk so kragtig uit Egipte verlos het en hulle met wonder na wonder in die woestyn versorg het, sal Hy dan nie verder vir hulle sorg nie? Hy het prakties in die natuur en deur die natuur sy almag geopenbaar. In die magtige onweer openbaar Hy telkens sy grootheid en die magtige waters is vir Hom geen bedreiging nie, maar Hy gebruik dit as ‘n instrument in sy hand. So het Hy die Egiptenaars daarin laat verdrink en sy volk verlos. Hy het sy volk gelei en sal dit nou ook weer doen. Hy kan weer mense daarvoor gebruik, soos Hy vir Moses en Aäron gebruik het, as Hy wil. digter is in sy gedagtes deur die Gees van God gelei tot die antwoord op sy gebed. Daarvoor het die Gees die waarheid van God se Woord, waarin die verhale van sy optrede geskrywe staan, gebruik. digter sluit sy gedig stomp af sonder om verder te verduidelik, omdat dit so logies is wat sal gebeur as jy die God van die verlede ook vertrou vir die hede.