Ps 78 God bly getrou al is ons ontrou

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 78

GOD BLY GETROU, AL IS ONS ONTROU !

Dié psalm sluit aan by Psalm 77, maar behandel in groter detail die getrouheid en strengheid van God, vanaf die uittog uit Egipte tot die regering van Dawid. Klem word gelê op die getrouheid van God, in teenstelling met die ontrou van die volk. Die doel van die psalm is om die komende geslagte te waarsku teen afvalligheid van die Here en hul aan te moedig om God in alles te vertrou. Die woorde (wet) en die wonderdade van die Here moet aan die volgende geslag vertel word, soos die vorige geslag dit aan die huidige geslag vertel het. Die doel daarvan is dat die volgende geslag God sal vertrou, gehoorsaam en leer uit die foute van die verlede. Die geskiedenis is soos ‘n raaisel wat uitgelê moet word sodat die nageslag dít wat God sy volk wou leer deur alles wat in die verlede met hulle gebeur het, kan verstaan. Hulle moet die verlede verstaan sodat hulle kan weet wie God is en hoe hulle Hom in die hede en in die toekoms moet dien. Hy is nog dieselfde God. Die openbarings van God in die verlede is lesse vir die hede en die toekoms. Die volk het dikwels God se woorde en dade van die verlede vergeet en daarom ook van Hom weggedwaal. In krisisse en tye van aanvegtinge moes hulle terugdink aan hoe God verlos en voorsien het in die verlede. Dit sou aan hulle eenvoudige geloof gegee het om te volhard om God te dien, sowel as ontsag te hê vir Hom, wat sy volk getugtig het as hulle oortree het.

Verse 1 – 11 : Die psalm begin soos ander wysheidsliteratuur. Die digter wil saam met die volk aan die volgende geslag die groot dade van God in die verlede vertel, sowel as die Woord van God wat deur die eeue na hulle gekom het. Daar is verborge sin in die geskiedenis en die ouer geslag moet aan die jonger geslag verkondig hoe God Homself in die geskiedenis aan sy volk geopenbaar het. Uit God se verhouding met sy volk en wat Hy deur die eeue met sy volk gedeel het, het sy Woord neerslag gevind en is as die Getuienis van wie Hy is en wat sy wil is aan sy volk gegee. Dit is die Tora (wet) wat in die eerste vyf boeke van die Bybel tóé tot hul beskikking was. As hulle die ou verhale van God se Woord en wonders hoor of lees, sal hulle dit nie vergeet nie en nie soos baie van hul voorouers koppig en ontrou word nie. Hul voorvaders het gou vergeet wat God gedoen het en ‘n onvaste hart ontwikkel.

Verse 12 – 31 : Met die uittog uit Egipte het hul voorvaders die wonders van God voor hulle oë beleef. Soan was die ou naam van Tanis, wat een van die woonplekke van die Farao was. God het magtige dade voor die Israeliete en Egiptenare gedoen, soos die water wat oopgekloof is en die wolk- en vuurkolom wat hulle beskerm het. Hy het die mag van Farao gebreek. Die Here het oorvloed water in die woestyn voorsien toe die rots geslaan is. Na dié wonder het hulle ongelowig gevra of God vleis en brood in die woestyn kan voorsien. Hy het manna en vleis in die woestyn voorsien terwyl die volk steeds nie die Here vertrou het nie. Hy het toornig op hulle geword en baie met die dood gestraf. God wil vertrou word. Hy wil hê dat sy kinders Hom in elke krisis moet vertrou. Hulle moet weet dat Hy in al hul behoeftes sal voorsien. Dit is ‘n belediging vir God as sy eie volk Hom nie vertrou om hulle te verlos en te versorg nie. Die ergste is nog as hulle ná kragtige verlossingsdade en oorvloedige voorsiening altyd weer twyfel of God weer sal sorg. Die verlossing en voorsiening van die Here in die verlede moet juis hul geloof bou vir die hede en die toekoms.

Verse 32 – 55 : God het hulle in die woestyn gestraf en dan het hulle weer aan Hom gedink, Hom gesoek en na Hom teruggekom. Maar die meeste het ook met valsheid na Hom teruggekeer. Hulle het gedink hulle kan God bedrieg deur Hom met hul monde te vlei terwyl hul harte nie aan Hom vashou nie. God het barmhartig teenoor hulle opgetree en daaraan gedink dat hulle nietige en sondige mense was. Hulle was hardkoppig en daarom het Hy met geduld voor die uittog met die plae sy mag aan Egipte en sy eie volk geopenbaar, sodat hulle kon weet dat hulle Hom kon vertrou vir die verlossing uit Egipte. Hy het hulle teen die Egiptenare beskerm toe hulle uitgetrek het.

Verse 55 – 72 : Selfs toe hulle in die beloofde land gaan bly het, het hulle God weer geterg deur afvallig te word en afgode te aanbid. Hy het hulle gestraf en in gevangenisskap laat gaan. Tog het Hy weer in genade na hulle uitgereik en Dawid uit die geslag van Juda aan hulle gegee om sy volk soos ‘n herder te versorg en te beskerm. Hy het Dawid uitgekies en aangestel om namens Hom oor hulle te regeer. Hy het hul vyande oorwin.

So is die belofte vervul dat die verlossing uit Juda sou kom en nie uit Efraim nie. Dit is vir ewig vervul toe Christus, die ewige Koning uit die geslag van Dawid, op die troon gaan sit het aan die regterhand van die Vader. (Open. 12) God is getrou, al is ons dikwels ontrou. (2 Tim. 2:13)

(Visited 243 times, 1 visits today)