Ps 79 Herstel U verwoeste volk

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 79

HERSTEL U VERWOESTE VOLK !

Die volk van die Here is verwoes en verneder deur heidense nasies. God het dit toegelaat as straf weens hul sondes. Dit was ‘n openbaring van die toorn van die Here. Tog bly Jakob se nageslag God se volk. Daarom kan die digter steeds roep om vergifnis en verlossing. God se eer is op die spel. Die heidense nasies sal God bly oneer aandoen as Hy nie weer sy volk herstel nie. Die heidene sal dit sien as ontrouheid van God as Hy sy volk in hierdie toestand laat. Die situasie is nog steeds onveranderd en Israel ly swaar. Die ongelowige nasies het dit geniet om te sien hoe Israel geslaan word. Daar was by hulle geen medelye nie. Daarom is die psalm ‘n roep tot God om vergelding.

Verse 1 – 6 : Die volk en die tempel is verontreinig deur die heidene. Jerusalem is ‘n puinhoop. Die vyande was wreed en genadeloos. Die lyke is nie eers begrawe nie. Die vyande het geen respek vir God en sy volk getoon nie. Baie bloed is vergiet. Die volk word bespot en beskinder deur die volke rondom hulle. Hoe lank sal die straf van die Here voortduur? Hy laat die mense toe om sy volk te laat ly. God moet liewer die heidene so straf, want hulle ken nie die Here nie. Hulle roep nie die Naam van die Here aan nie.

Verse 6 – 12 : Die digter roep na God in die gebed. Die Here beheer alles. Hy moet ingryp en sy volk se vyande straf. Op grond van die barmhartigheid van God, moet God hulle sondes nie toereken nie. Die barmhartigheid moet Israel gou tegemoet kom, omdat hulle swak is. Barmhartigheid is tog immers gerig op hulle wat erken dat hulle swak is. God moet versoening doen vir Israel se sondes. Hy is die God van heil, van verlossing. Dit is tot die eer van sy Naam as Hy sondes versoen en vergewe. Saam met versoening gaan redding van vyande. Wanneer God vergifnis skenk, verlos Hy ook onmiddellik van sy kinders se vyande. Die twee dinge gaan saam. Die eer van God moet ook daarin herstel word dat die nasies moet sien dat God húlle straf wat sy volk vernietig het. Die ongelowiges besef nie dat God hulle oorwinning oor Israel toegelaat het weens tugtiging nie. Hulle dink God is swak en nie in staat om sy volk te beskerm nie. Daarom het hulle ook geen respek en vrees vir God nie. Die digter vra God moet dit nie meer langer toelaat nie. Die daaglikse lewe na die verwoesting is onuithoudbaar. Maar daarmee saam is die spot van die nasies en hulle arrogansie teenoor God nog meer onuithoudbaar. Die nageslag van Jakob is die gevangenes van ongelowiges. Hulle is steeds weerloos teenoor hulle vyande en kan enige tyd doodgemaak word. Hulle lewens is nie veilig nie. As God nie ingryp nie sal hulle verder sistematies uitgemoor word. Niemand kom tot hulle hulp nie. Daarom sug die gelowiges en bid dat God hulle sal verlos en hul vyande sal straf. Die Here moet geregtigheid laat geskied. Israel bly God se volk. Hulle is die skape van sy weide. Hulle kyk op na Hom vir hulp en versorging. Hy is tog die goeie herder. Die ware gelowiges onder sy volk sal die Here bly loof en vertrou vir uitredding. Daar is ‘n ewige verhouding tussen hulle en hul God. As Hy hulle verlos, sal hulle dit aan die nageslag vertel, en God bly loof. Die ongelowige mense van hierdie wêreld sal altyd vyandig wees teenoor kinders van God, ook in die Nuwe Testamentiese tyd. Elke geslag van gelowiges sal God loof terwyl hulle vervolg word. Elke geslag van kinders van God moet aan die volgende geslag vertel van die uitredding en bewaring van God, maar hul ook waarsku teen die tugtiging van die Here as ons in sonde volhard. Die gelowige kan nie maar net in sonde volhard en dink die Here gaan niks daaraan doen nie. Hy is ‘n heilige God wat ook sy eie kinders tugtig as hulle volhard in sonde terwyl hulle sy waarskuwing minag. Die wêreldse mense is dan vinnig om so ‘n gelowige te bespot en te beskinder. Maar as die teruggevalle kind van God sy sondes bely en weer reg lewe, kan hy staatmaak op die vergifnis en uitredding van God. Dan veg God sy saak vir hom. Hy moet dan daarvan getuig aan die volgende geslag en saam met hulle die Here loof!

(Visited 33 times, 1 visits today)