BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 81
VERLOSTES MOET GOD PRYS EN GEHOORSAAM !
Dié psalm is ‘n oproep om deel te neem aan die Loofhuttefees. Die volk word opgewek om met geesdrif, maar ook met erns die fees te vier en God te prys. Dit help nie om God tydens die fees te loof en daarna weer in die gewone gang van die lewe ongehoorsaam aan God te leef nie. Die fees begin in die middel van die maand met die eerste insameling van die oes. Hulle woon dan vir sewe dae in tente tot herinnering van die uittog uit Egipte, toe hulle ook in tente gewoon het. Die volk is ‘n verloste volk wat God nou uit dankbaarheid moet dien vir sy verlossing (Ex. 6:6). Die volk het egter na die uittog nie na die stem van die Here geluister nie en die Here het hulle oorgegee aan die hardheid van hulle harte. Hy wou hulle seën met materiële en geestelike volheid, maar hulle wou nie luister nie. Die psalm roep dus ook die volk op om fees te vier met ‘n opregte hart en om die Here regtig eerlik te dien.
Verse 1 – 6 : Die God van Jakob is die sterke God wat sy almag keer op keer aan die volk openbaar het voor die oë van die nasies. Daarom moet Hy geprys word en musiekinstrumente moet tot die lofprysing bydra. Die hoogtepunt is die begin van die nuwe maand met die volmaan. Die fees is deur God self ingestel as ‘n vaste insetting en as ‘n getuienis vir almal. Verlossing moet feestelik gevier word. Daarom sing die kinders van God. Hulle jubel tot eer van God in blydskap oor hul verlossing, maar meer nog oor Gód hul Verlosser.
Verse 7 – 11 : Die Here praat direk met sy volk deur die psalmdigter en herinner hulle aan die bevryding uit Egipte. Die las is van die volk se skouers afgehaal en die slawe-arbeid is gestop. Dit was ‘n antwoord op die geroep van Israel om uitredding. Die Here het duidelik met sy volk gepraat tydens die verlossing, en Hy het ook hul vertroue in Hom getoets tydens die trek deur die woestyn. Die volk het egter altyd geneig tot opstandigheid en ongehoorsaamheid. God wou hul enigste God, en eerste in hul lewens wees. Hul mag geen ander gode soek of aanbid nie. Hy het Hom tog duidelik aan hulle geopenbaar as die ware God wat wonders op wonders gedoen het en sy Woord altyd vervul. God verdra geen afgod in sy volk se lewe nie en wil hulle so graag seën en versorg as hulle Hom eerste stel. Die wet begin immers met die belangrikste oproep: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, gelei het. Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie.” (Ex. 20) God wil in ‘n verhouding met sy volk staan. Hy is getrou en verwag van hulle om ook getrou te wees. Feesviering met ontroue harte is vir Hom afstootlik (Jes. 1:12-15).
Verse 12 – 17 : Die huidige geslag moet leer uit die foute van die voorvaders. Die voorvaders was ongehoorsaam en het die oorvloed van die Here gemis. Hulle was so hardkoppig dat die Here hulle oorgegee het aan die verhardheid van hul harte, sodat hulle hul eie wil kon volg en die vrug daarvan pluk. Hoe het die Here nie be geer dat sy volk na Hom sou luister en ‘n gewilligheid openbaar om Hom te dien en te gehoorsaam nie! Daar is beloning vir gehoorsaamheid, want gehoorsaamheid openbaar liefde tot God. So was hul vader Abraham gehoorsaam toe God hom getoets het om sy seun te offer. Dit was ‘n bewys van sy liefde (innerlike “commitment”) aan God. Daarom het God hom grootliks geseën. Dit beteken nie dat gehoorsame kinders net altyd voorspoed sal hê nie. Wanneer getroue gelowiges soos Job deur slegte dinge gaan, is dit juis toetse waarin hul geloof getoets word. Maar ongehoorsame gelowiges verduur onnodige straf wat God toelaat as tugtiging. Maar vir ‘n volk wat na Hom luister, sê die digter: “Hy wil sy volk voed met die beste van die koring en met heuning uit die rots”. As ons honger is na Homself (geestelik) en behoefte het aan sy voorsiening, kan ons met verwagting ons monde oopmaak dat Hy dit kan vul.