BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 82
GOD SAL DIE WÊRELDLEIERS OORDEEL
Die wêreldheersers is soos gode wat regeer. Agter hulle sit ook bose magte wat hulle beïnvloed (Dan. 9 en 10). Bose magte stel hulleself ook voor as gode wat aanbid wil word. So span die bose magte en die politieke leiers van die wêreld saam om te heers oor God se skepping. Baie leiers aanbid ook afgode, wat eintlik gevalle engele is (1 Kor. 10:18-22). God regeer egter nog steeds oor hierdie wêreld en oordeel oor dié wat soos gode regeer. ’n God se hooftaak is om hoof te wees oor ‘n volk of volke, en om oor mense te regeer. Daarom dat die bose magte wat graag aanbid wil word, hulle as gode voorstel. Nog meer, hulle skuil ook agter wêreldleiers en probeer om deur hulle ‘n land of die wêreld te regeer. Daarom word in Jesaja 14 in een asem gepraat van die koning van Babel en die Satan. Satan en die koning van Babel wil saam die wêreld regeer en doen dit saam. Albei wou God se troon oorneem en aanbid word deur die hele wêreld. konings en leiers van die aarde is dan ook dikwels selfgerig en tree onregverdig op teenoor baie van hulle onderdane. Hulle maak misbruik van hul mag, in plaas daarvan dat hulle reg laat geskied aan mense wat hulself nie kan beskerm nie. Maar God oordeel oor hul dade en sal hulle oordeel. digter vra God dan ook om op te tree en die leiers te oordeel, omdat God die reg het om dit te doen.
1 – 5 : God openbaar Homself aan die digter as die Een wat eintlik regeer en die leiers van die wêreld sal oordeel. Hy sien die ongeregtigheid raak en sal in geregtigheid oor hulle oordeel wat moes regeer soos “gode”, wat hul posisie van hoofskap ernstig opneem. Letterlik staan daar: “Elohim staan in die vergadering van El, in die midde van Elohim hou Hy gerig”. Hy sal reg spreek oor konings en regters. Hy sal ook regspreek oor die bose magte wat agter hulle skuil en hulle beïnvloed om onregverdig en korrup op te tree (Vergelyk Jes. 3:13-15). God stel konings aan en sit hulle weer af (Dan. 2:19-23). Hy hou hulle verantwoordelik vir die posisie van mag wat Hy aan hulle toevertrou. Hulle taak is om hul mag reg te gebruik. Deel van hul taak is om swak en behoeftige mense by te staan en hulle te bevry van die hand van goddelose mense. Die meeste regeerders besef egter nie dat dit ‘n voorreg is om mag te hê nie, en dink nie eers daaraan dat dit van God af kom nie. Daarom tree hulle onregverdig en korrup op en word die fondamente van ‘n stabiele sosiale orde ondermyn. Mense raak al meer korrup onder leiers wat korrup is. Die fondamente van geregtigheid word dan so afgebreek dat morele chaos hoogty vier. Hulle leef in geestelike duisternis en dit veroorsaak morele verval en ‘n gebrek aan integriteit in verantwoor-delike posisies op elke vlak van die samelewing.
6 – 8 : God self het hulle as regeerders aangestel in die verantwoordelike posisies om te heers oor mense. Dit is ‘n voorreg om te dien en nie ‘n reg om met hardheid en misbruik van mag op te tree nie. Sulke goddelose regeerdes dink later hulle is gode en oorspeel dan hulle magte. Hulle tree dan as tiranne op wat dink hulle het die reg om met mense onder hulle se lewens te maak soos hulle wil. Mense word vir hulle net ‘n nommer en instrumente om te gebruik om hulle eie mag en rykdom te vermeerder en te verstewig. Hulle sal egter sterwe soos al die ander mense, al dink hulle hulle is onaantasbaar. Mag gee aan dwase leiers dikwels die gevoel van onaantas-baarheid, en hulle besef nie dat hul heerskappy iewers tot ‘n einde gaan kom nie. Dan, wanneer hulle gestroop is van alle mag, sal hulle met ‘n skok agterkom hulle is nog steeds net weerlose mense. Die dood wag ook op hulle, en dan die oordeel. Dit sal ook ‘n groter oordeel wees as dié van gewone mense. Die oordeel sal groter en strenger wees oor hulle wat groter verantwoordelik-hede gehad het. Die oordeel sal groot wees oor leiers wat die lewe van ander mense in hulle hande gehou het. Die digter roep na God om op te staan en die leiers te oordeel omdat dit sy reg is as Skepper en as die ware God.