BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 83
OMRING DEUR VYANDE !
Die volk van God is omring deur vyande. Van bo uit die noorde tot onder in die suide, sowel as in die ooste en die weste. As jy van alle kante bedreig is, kan die oplossing net van bo kom. Daarom is die gedig ‘n kragtige geroep na God. Die bedreiging om Israel vir ewig van die aarde af te vee, is ook ‘n direkte aanval teen die eer van God. Daar is ‘n natuurlike haat onder die nasies teen God en sy volk. Nou verenig daardie haat hulle en wil hulle vir altyd van die die volk van God ontslae raak en hul nagedagtenis vir altyd uitvee op die aarde. Die bedreiging is baie ernstig omdat almal rondom Israel nou saamspan teen hulle, en ook nog die hulp van Assirië bykry. Moontlik was die aanslag in die tyd toe Assirië ‘n wêreldryk was in 650 v.C., in die tyd van Manassa. Die gebed gaan daaroor dat die Here so kragtig teen hulle sal optree dat Hy sy almag en opperheerskappy teenoor alle volke sal openbaar. Hy is die ware God en Hy het die land aan sy volk gegee. Dié wat sy volk wil vernietig en hul grond wil vat, daag vir God self uit. Die digter vra dat God hulle met ‘n magtige verlossing sal verslaan soos Hy al in die verlede gedoen het. Dan sal hulle weet dat Hy die Allerhoogste oor die hele aarde is.
Verse 1 – 9 : Die psalm begin met die gebed dat God hom nie stil sal hou nie en ook nie stil sal bly nie. Dan beskryf hy onmiddellik die bedreiging van die vyande wat God haat. Die vyand staan kragtig en uitdagend op en beplan saam hoe hulle die volk sal vernietig. Hulle wil Israel totaal uitroei sodat hulle as ‘n volk sal ophou bestaan. Daar is dus geen genade in hul houding nie. Die volk is God se volk en skuil by die Here, maar die ongelowige nasies het geen begrip daarvan nie. Die verhouding wat die volk met God het, is vir die ongelowiges verborge. Hulleself het geen verhoudings met hul gode nie, omdat hulle gode nie werklike wesens is nie. Die koalisie is reeds gevorm en die besluit om Israel te vernietig, is reeds geneem. Die bedreiging is deur ‘n oormag van alle kante. Israel kan nêrens heen vlug nie. Maar Israel kan opkyk na God en roep om hulp van bo. Assirië is ‘n baie sterk mag, wat die koalisie ondersteun. Vir die koalisie is die oorwinning verseker.
Verse 10 – 19 : Die digter haal voorbeelde uit die verlede aan waar God groot oorwinnings vir sy volk bewerk het. Die eerste is die verlossing uit die hand van die Midianiete, deur Gideon, toe Israel nog maar kort in Kanaän was. Met drie honderd toegewyde soldate het die Here ‘n oormag verslaan. Toe die Efraimiete bygekom het om Gideon te help, is Oreb en Seëb (leiers van die Midianiete) gevang en doodgemaak. Gideon het die Midianiete nog verder agtervolg en die konings Seba en Salmuna doodgemaak. Honderd en twintig duisend van hul beste soldate het gesneuwel (Rigt. 6-7). God het ook die volk verlos van koning Jabin van Hasor se aanval toe Jael, die Keniet (Geber se vrou) die tentpen deur die slaap van Sisera gedryf het (Rigt. 4). Jabin en sy weermag is totaal vernietig nadat hy Israel vir twintig jaar verdruk het. Dit het gebeur nadat die volk tot God geroep het om hulp (Rigt. 4:3). Debora, die vroue-profetes, is kragtig deur die Here gebruik om Barak en Israel te lei in die stryd.
moet God die huidige vyande ook vernietig. Dit is ware geloof. Die digter kyk na die feite van die verlede waar God sy almag openbaar en die volk kragtig verlos het. God is nog dieselfde God en sal dit weer doen in antwoord op gebed. Die bedreiging en onderdrukking van die Midianiete het gemaak dat die volk tot God geroep het om verlossing (Rigt. 6:6-7). is hierdie psalm ook weer ‘n gebedsroep namens die volk om redding van ‘n groot bedreiging. God moet hulle maak soos stoppels voor die wind, soos vuur wat ‘n bos verbrand. God moet hulle tref soos ‘n magtige storm wat alles voor hom vernietig. Hulle moet so verneder word dat hulle die God van Israel leer ken as die Allerhoogste en dat hulle Hom sal begin dien as die ware God. Die oorwinning moet selfs tot redding van die vyande wees as hulle God waarlik leer ken vir wie Hy is. Hulle moet so skaam word dat hulle tot bekering kom.