Ps 84 Hoe lief het ek U wonings

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 84

HOE LIEFLIK IS U WONINGS !

Dié psalm is ‘n pelgrimslied wat gesing is met feestelike optogte na die tempel. Die Here het in die Ou Testamentiese bedeling op ‘n besondere wyse in die binneste heiligdom van die tempel, waar die ark in was, gewoon. Daar het Hy sy teenwoordigheid geskenk en daarom mag niemand agter die voorhangsel ingegaan het nie, behalwe die hoëpriester een maal in die jaar onder beskerming van bloed. Die volk mag egter tot God genader het tot in die middelste heiligdom om sy teenwoordigheid te beleef. Die kinders van Korag beskryf die verlange van die toegewyde gelowiges na die plek waar die Here woon, wat vir hulleself soos ‘n huis geword het waar hulle eintlik vir altyd sou wou woon. Dan was hulle altyd in die teenwoordigheid van die Here naby die Allerheiligste. Die verlange na God self is so sterk in hul siele dat dit selfs in hul liggame gevoel kon word. Die God van die tempel is die lewende God wat sy kinders se harte vul met vreugde, sodat hulle wil jubel tot sy eer. Mense wat graag voortdurend in die teenwoordigheid van God wil lewe, sal innerlike geluk en krag by die Here vind vir hul daaglikse lewe. Al kan hulle nie altyd in die tempel bly nie, is hul siel en liggaam op God ingestel sodat hulleself soos ‘n fontein is wat God se seën oral met hulle saamdra. Tog verlang hulle om telkens weer terug te gaan na die tempel om hulle daar weer in God self te verlustig saam met medegelowiges. Vir mense wat God self soek as hul lewensbron, sal Hy die goeie dinge nie van hulle weerhou nie.

Verse 1 – 5 : Hoe geliefd is die huis van die Here onder die gelowiges wat honger na God self! Dit is vir hulle geen las om moeite te doen om op te gaan na die tempel nie, inteendeel, selfs die pelgrimstog na die tempel is vol uitbundige vreugde en vol verwagting. As die voëltjies so tuis is in die tempel dat hulle selfs daar hul nessies bou, hoeveel te meer kan die kinders van God nie hulself daar tuismaak nie. Die vrymoedige ingang in die voorhowe van die Here is moontlik omdat dit gepaard gaan met die offers op die altaar. Die bloed is ‘n teken van vergifnis van sonde, wat die weg oopmaak om in die middelste heiligdom in te gaan. Mense wat so honger is na God dat hul sy teenwoordigheid daar wil beleef, is innerlik gelukkig. God is vir hulle die Almagtige en Hy is hulle Koning wat met vreugde aanbid en bewonder word. Die God wat in die tempel woon, is die Koning van Israel en Hy is in hulle midde.

Verse 6 – 8 : Mense vir wie God hul lewensbron is, is afhanklik van die Here vir alles. Hulle soek ook hul krag in Hom. Daarom het hulle keer op keer weer honger na innige en direkte gemeenskap met God self. God se weë is in hul harte sodat hulle volgens sy wil wíl lewe. Dit is gebaande weë. Die Woord stippel presies uit wat reg en wat verkeerd is, sodat daar geen onduidelikheid daaroor is nie. Die gelowiges wat God se Woord in hul harte dra, is self soos ‘n fontein wat geestelike lewe bring waar hulle kom. Die lewende water vloei uit hul binneste en bring lewe waar daar geestelike doodsheid is (Joh. 4:13-14, 7:37-39). Omdat hulle so tyd maak vir gemeenskap met God, gaan hul van krag tot krag in die Here en groei geestelik sterker en sterker (Ef. 6:10).

Verse 9 – 13 : In die tempel bid die pelgrim sy hart uit voor die Here. Hy bring ook sy behoeftes na die Here. God is ‘n skild vir die gelowige wat by Hom beskerming vind. Niks en niemand kan hom iets aandoen as God dit nie toelaat nie. Die wêreld kan nie bied wat die teenwoordigheid van die Here vir die kind van God beteken nie. Om saam met goddeloses in ligsinnigheid tyd deur te bring, kan niks van ewigheidswaarde bied nie. Dit kan die hart nie met permanente vrede en vreugde vervul nie. Waarom? Want die Here is ‘n son en ‘n skild. Soos die son lewe gee aan die aarde, gee God lewe en beskerming aan dié wat vol is van sy teenwoordigheid. Dit maak sy volk rustig en vervuld. Hulle is dan nie gedryfde mense wat aanhoudend soek na vervulling buite God nie. God is ‘n goeie God. Hy sal die goeie dinge nie terughou van dié wat opreg voor hom lewe nie. Hy gee aan hulle genade (favour) en eer (waarde).

Gelukkig is hulle wat só op God vertrou!

(Visited 54 times, 1 visits today)