Ps 85 Gee tog herlewing

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 85

GEE TOG HERLEWING !

Die psalm is waarskynlik geskryf na die terugkeer uit ballingskap. Hy het die ballingskap van Jakob tot ‘n einde gebring en nou moet die land herstel word. God het die volk Israel vir hom uitgekies, sowel as die land waarin Hy gekies het dat hulle moet woon. Daarom bring Hy hulle weer terug na hul land, omdat dit deel was van sy verbond met hulle. Hulle het duur betaal vir hulle sondes en afvalligheid. Die bepaling was dat hulle vir sewentig jaar in ballingskap sou gaan, en so het dit gebeur. Die toorn van die Here is nou uitgewoed in die regverdige straf wat hulle verdien het. Die gevaar is egter dat hulle weer kan afdwaal, of steeds in geestelike doodsheid kan verval. Dit moet tog nie gebeur nie. Daarom vra die digter namens die volk dat die Here hulle geestelik sal laat herleef sodat hulle uit die volheid van die verlossing kon lewe. Die geestelike lewe wat God gee, bewerk altyd die gewilligheid om reg te lewe. Vrede kom alleen as die volk se sondes weggeneem is en hulle in gehoorsaamheid reg lewe.

Verse 1 – 8 : Daar is blydskap oor die terugkeer uit die ballingskap. Daar is dankbaarheid dat die ongeregtigheid van die volk weggeneem is, en hulle kon nou weer nuut begin. Al hulle sondes is bedek en straf (tug) op hulle sondes is afgehandel. God se woede is van hulle afgewend en Hy wou nou weer in goedheid in ‘n herstelde verhouding met hulle lewe. Sonde het hul verhouding met God versteur. Die volk is nog in ‘n proses om hul verhouding met die Here so te herstel dat hulle uit sy volheid kan lewe. Daarom die uitroep: ”Herstel ons, o God van ons verlossing”. God, wat hulle uit die ballingskap verlos het, moet hulle ook verder verlos van enige louheid of selfgerustheid. Hulle moet die lesse van die straf wat hulle deurgegaan het, ernstig opneem en God nou in oorgawe dien. Geestelike lewe kom van God af. Daarvoor moet gebid word. Die gevaar is dat mense uiterlik uit die ballingskap terug kan wees, maar dat hul harte nog nie volkome uit die ballingskap is nie. Daarom nog ‘n verdere uitroep: ”Sal U ons nie weer lewend maak sodat U volk in U bly kan wees nie!” Die kenmerk van ware geestelike herlewing is dat dit vir iemand om God self gaan en nie meer dit wat hy uit God kan kry nie. Daar moet ‘n honger na God self wees en na die geestelike volheid wat Hy vir sy kinders wil bied. Dit is alleen moontlik in ‘n volkome herstelde verhouding tussen elke gelowige en sy God. Persoonlike herlewing in die hart van ‘n gelowige draai altyd sy hart terug na God self. God is goed en wil graag die volheid van sy heil aan elke kind van Hom gee. Soos die volk teruggekeer het uit Babel, so moet hulle harte geheel en al terugkeer uit die land van sonde en afgodery. “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie . . . ” (Jes. 52:11) Geestelike herlewing behels deeglike reiniging en die keuse om daarna rein te lewe.

Verse 9 – 14 : Direkte onderhandeling met die Here, om jou saak met die Here reg te maak, sal uitloop op die volle vrede wat net Hy kan gee as Hy direk vir jou persoonlik sê: ”Vrede!” Hy gee die vrede wat alle verstand te bowe gaan en so beleef die kind van God die volheid van sy verlossing. Daarna moet jy nie weer na dwaasheid terugkeer om terug te val in sonde nie. HY skenk sy teenwoordigheid in harte wat rein is (Lev. 26:12, 2 Kor. 6:14-18). Goedertierenheid en trou is deel van God se karakter. Daarom is HY goed vir sy volk, maar verwag getrouheid van hulle. Vrede sonder geregtigheid is ‘n valse vrede. Die mens kan net met God vrede hê as daar vir sy sondes betaal is, en hy dan in gehoorsaamheid aan God lewe. God se liefde en geregtigheid gaan altyd saam. Hy pas nooit sy geregtigheid aan om plek te maak vir liefde nie. As God homself openbaar in geregtigheid, leer die volk om met trou voor hom te wandel. Hulle wat in ‘n regte verhouding met hom lewe, sal sy versorging op tydelike gebied geniet. Al God se optredes is gevul met geregtigheid. Wanneer Hy straf of seën, gaan geregtigheid voor hom uit. Ook die vrug van God se optredes is vol geregtigheid. Geestelike herlewing is in wese “reg maak met God” en die ontvangs van sy volle vrede!

(Visited 109 times, 1 visits today)