Ps 88 Gebed in duisternis

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 88

GEBED IN DUISTERNIS !

Dié psalm is die donkerste van al die psalms. Dit is vol wanhoop sonder ‘n antwoord. Dit gaan net sleg en daar is geen hulp nie. Heman, die Esragiet, was die hoofleier van die tempelmusiek in die tyd van Dawid. Die digter beskryf die belewenis van ‘n siekte, soos melaatsheid, wat hom sterwend laat en hom verwyder van sy familie en vriende. Daar kom geen genesing nie, en dit is die diepste punt van smart wat die digter beleef, na ‘n leeftyd van baie swaarkry en ellende. Die gedig eindig sonder ‘n antwoord en in eensaamheid. Die enigste voordeel van die gebed is die uitpraat van ‘n hart wat moeg en sat is van teëspoed. Die gesprek met die God van sy heil, wys op geloof, selfs terwyl dit lyk of God nie die situasie gaan verander nie.

1 – 8 : Die nood van die bidder is so groot dat hy dag en nag roep tot God. Hy vra dat sy gebed voor die aangesig van God sal kom sodat Hy aandag sal gee aan sy saak. Sy gebed is die intense smekinge van iemand wat absoluut uitgeput en radeloos is. Die doderyk lê en wag vir hom en hy voel selfs dat hy afgesny is van God se hand. Die hand van God wat hom kan aanraak en help, is ver van hom af verwyder. Al wat oorbly, is aanhoudende smeking en die wete dat God die God van verlossing is. Die feit dat hy God noem “die God van my heil”, wys daarop dat die digter ‘n diep persoonlike verhouding met God het. Sy ellende is nou egter so groot dat hy beleef dat God kwaad is vir hom, en ontevrede is met hom. Die dinge wat hy deurmaak, druk hom neer soos golwe van straf van die Here. Dit is te veel en te aanhoudend om te verduur. Mense het hom reeds al afgeskryf en vergeet as iemand wat tog in elk geval sal sterf en deel word van die leefwêreld van die dooies.

9 – 13 : Hy bid soos iemand wat reeds naby die dood is. Hy is weggeneem van sy bekendes en leef in ‘n onnatuurlike situasie. Hy is vir sy geliefdes soos iets afskuweliks waarmee hulle nie geassosieer wil wees nie. Hy is magteloos om uit die situasie te kom. Hy kan homself nie red nie. Sy ellende word weerspieël in die gebrokenheid wat uit sy oë straal. Nog steeds brei hy sy hande uit na God in die gebed. Daar is geen opstandigheid oor sy omstandighede nie. Hy is hartseer oor dit wat God oor sy lewe toelaat, omdat dit vir hom te veel geword het. Die enigste opsie in so ‘n situasie is aanhoudende gebed. As hy sterf, sal God tog nie daarna ingryp nie. Kan ‘n dooie mens God loof? Daar is geen verligting vir sy lyding nie. As hy sterf, kan hy tog nie teenoor die mense getuig van God se goedheid nie. Mense op aarde kan nie in die doderyk inkyk en sien hoe God daar wonders doen nie. Sal hy van God se getrouheid kan vertel in die lewe na die dood? Kan mense iets leer van die geregtigheid van God in die plek van vergetelheid?

14 – 19 : Steeds roep die digter na God! In die môre nader hy weer tot God. Hy wil weet waarom die Here hom verstoot en nie antwoord nie. Hy kry nie deurgebid nie. Hy kom nie by ‘n antwoord uit nie. God bly stil en reageer gladnie. Hy dink terug aan sy lewe en besef dat hy van jongs af aanhoudend ellende beleef het. Dit wat God oor hom toelaat, maak hom bang en onseker. Die toorn van die Here vernietig hom. Hy is alleen omdat God sy vriende en die mense met wie hy die lewe kan deel, van hom af verwyder het. In plaas daarvan dat hulle hom kan bystaan en bemoedig, dra hulle afwesigheid en apatiese houding teenoor hom by tot sy depressiewe omstandighede. Sy gebed eindig met die woord ”duisternis”. Dit is die ergste toets wat God aan die gelowige kan gee. Dit is wanneer hy in eensaamheid alleen deur aanhoudende ellende moet gaan sonder dat God of mense hom uithelp of bystaan. Dit is wanneer God stilbly en geensins reageer nie – terwyl die nood op die hoogste is en die gelowige se geroep op die hardste is. Om God dan nog te vertrou, is groot geloof. Al gaan ek dan onder, bly God my God. Ons sien daardie geloof by Daniël se drie vriende, by Job en by Ester. Selfs as God hul nie van die vuur sou red nie, sal hulle die afgod nie aanbid nie. Al maak God my dood, sal ek nog op Hom hoop. Kom ek om, dan kom ek om, maar ek sal doen wat ek moet doen. God laat soms omstandighede oor sy kinders toe wat hulle nie kan verstaan nie, en Hy verduidelik dan ook niks aan hulle nie. Hulle kan selfs sterf met al die vrae op hul lippe. Dan moet hulle op sy alwysheid vertrou en sy soewereiniteit hul kussing maak.

(Visited 57 times, 1 visits today)