BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 89
DIE EWIGE VERBOND MET DAWID !
Dié psalm is oor ‘n baie moeilike tyd geskryf, miskien oor die tyd van die ballingskap toe hulle gewonder het hoe die beloftes van God aan Dawid waar sal word. Daarom val die digter terug op die karakter van God wat in dié verband gaan oor sy trou, goedertierenheid en grootheid, wat Hom die Almagtige maak. Geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon. Daarom sal God in trou sy beloftes aan Dawid vervul, al lyk dit of dit nou nie meer waar gaan word nie. Selfs as Dawid se nageslag sondig, sal God sy verbond met hom hou, hoewel hy hulle sal tug. God het nou aan die volk se vyande die oorwinning deur die swaard gegee. In geloof weet die digter egter dat God se beloftes waar sal word. Dit is finaal in die Messias vervul.
1 – 20 : Die digter (Etan) begin om die getroue genade van God te besing. Dit is die onverganklike liefde van die Here wat vastigheid gee aan sy verbond met Dawid wat vir ewig sal bestaan. Die verbond was dat daar vir ewig iemand op die troon van Dawid sal sit (2 Sam. 7). God se trou en die wonder van sy mag! Die hemelinge besef sy grootheid terdeë! Selfs in die hemel, met sy verlostes en magtige engele, kom niemand naby die grootheid van God nie. Ook in die skepping word die onbetwisbare grootheid en almag gesien. Hy beheer alles en alle vyande is aan Hom onderwerp. Hy het Rahab vernietig (die mitologiese monster wat volgens bygeloof deur Marduk verslaan is) Sien Eks. 14:26. Volgens die Woordelys in die 1983 Vertaling – bl. 369 – is “Rahab, net soos die Leviatan, die benaming vir ‘n seemonster wat voorgestel is as ‘n mag wat die skepping bedreig het en deur die Here verslaan is (Job 9:13, 26:12, Ps. 89:11, Jes. 51:9). Die naam sinspeel soms op Egipte (Jes. 30:7)”. God het beheer oor alles op aarde, al lyk dit soms vir die menslike oog of chaos losbreek. God, wat alles geskape het, beheer ook in reg en geregtigheid alle magte wat teen Hom en sy volk in opstand is.
20 – 38 : God het met Dawid gespreek en aan hom grootheid geskenk met hierdie groot belofte. Geen teenstanders kan God se beloftes ongedaan maak of verydel nie. God se hand sal bestendig met hom wees en sy teenstanders sal altyd vernietig word. Deur die Messias sal alles vervul word. God is ‘n Vader en ‘n Rots vir Dawid, maar soveel te meer vir die groot Dawid wat uit sy nageslag sal kom. (Open. 3:7) “U het gesê: ”Ek het ‘n verbond gesluit met my uitverkorene, Ek het ‘n eed gesweer vir my dienaar Dawid: Ek sal jou nageslag verseker vir altyd en jou troon in elke geslag laat standhou.” (v. 4-5) “Vir altyd (ewig) handhaaf Ek my trou teenoor hom, my verbond met hom staan vas. Ek sal vir hom altyd nakomelinge verseker sodat sy troon vas sal staan so lank daar ‘n hemel is (v. 29-30). Selfs al sou Dawid se nageslag ontrou word aan die wet van die Here, sal God getrou bly. God het nie vir Dawid gelieg nie, want God kan nie lieg nie. Dawid se troon sal vir ewig bestaan.
Verse 39 – 53 : God tugtig nou egter die volk van die Here. Die volk se omstandighede is in skerp teenstelling met hierdie beloftes. Die koningskap is weggeneem van Israel. Alles is vernietig en die kroon van die koning is verwyder. Dit is waarskynlik met die ballingskap in 597 en 586 v.C. na Babel. Die dinastie is vernietig en almal spot daaroor. Die vyand het oorwin en die troon van die koning neergewerp. Hoe sal die beloftes dan nou vervul word? Die troon van die gesalfde word in die grond vertrap. Die mure van die stad is afgebreek en sy vestings lê in puin. Almal wat verbykom, beroof die stad en juig oor hul vernietiging. Wanneer dit lyk of God se beloftes nie in vervulling kom nie, maar die teenoorgestelde gebeur, wend die gelowige hom tot gebed en lofsang. Hy besing die liefde, getrouheid, grootheid en almag van die Here. Hy sing selfs die beloftes in geloof. In gebed vra die digter dat God moet onthou dat die mens se lewe kort is en dat daar maar min is om te geniet van die lewe. Waarom sal God dan sy volk nog so laat swaarkry deur sy vyande? God word onteer deur die gespot van die vyand. Die mens is alreeds so nietig, waarom moet hulle dan nog so baie ly? Dit is swaar om die spot van die vyand te verdra, met inagneming van die beloftes van God aan Dawid. Die werklikheid is in skrille kontras daarmee. Nogtans loof die digter die Here en sluit die gedig daarmee af. Hy gryp weer in geloof terug aan die getrouheid en die beloftes van God. God was en is getrou. Op die troon van Dawid sit die ewige Koning aan die regterhand van die Vader. “Maar van die Seun sê HY: ”U troon, o God, staan vir ewig vas, met U koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, U God, U tot Koning gesalf bo U tydsgenote.” (Hebr. 1:8-9, Ps. 45:7-8).