BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 90
DIE VERGANKLIKHEID VAN DIE MENS !
Dié psalm lui die vierde groep van Psalms in. Moses se besef van die kortstondigheid van die mens se lewe op aarde bring hom tot gebed. Die lewe is so verganklik weens die sonde wat in die wêreld ingekom het. God se toorn rus voortdurend op hierdie sondige mensdom. Die besef aan die verganklikheid waaraan hierdie wêreld onderworpe is, moet ons dring tot wyse gebruik van ons kort lewe. Die gelowige kan egter sy permanentheid en vastigheid in die Here vind, wat nie aan hierdie verganklikheid onderworpe is nie, maar dit beheer.
1 – 11 : Die digter begin in sy gebed met getuienis teenoor God oor God as veilige woonplek vir die volk. Voordat hy skrywe oor die mens se verbygaande lewe, begin hy praat oor God as ewige vaste skuilplek. Vir hom is dit nie net ‘n teologiese waarheid nie, maar hy getuig dat die volk van God dit van geslag tot geslag so ondervind het. God lewe bokant die verganklikheid en het bestaan nog voor die aarde geskape is. God se lewenstydperk is van ewigheid tot ewigheid. God bepaal ook wanneer die mens sterwe en gee in elke geval die opdrag daartoe. Duisend jaar is vir die Here soos ‘n dag wat verby is, of soos ‘n nagwaak. Hy spreek die Here aan as Adonai, wat beteken Soewereine Beskikker en Heerser. Hy gebruik twee woorde vir die aarde. Die een dui op die planeet aarde en die ander op die lande daarbinne wat deur mense bewoon word. Hierdie hele aarde met sy inwoners is gebonde aan die tydelike, terwyl God ewig en onveranderlik is. Soos gras wat in die môre pragtig groen is, maar afgesny word en gou verdroog, so is die mens se lewe na die sondeval. As hulle sterf, is hulle soos mense wat slaap en geen bydrae meer kan lewer tot hierdie aktiewe lewe nie. Alles gaan vinnig en daarom ook vinnig verby. Die Here sien die ongeregtigheid van mense voortdurend raak, sowel as die sondes wat mense wegsteek. Die mens beleef die verganklikheid intens omdat sy jare so gou verbyskiet soos ‘n gedagte. Alle besittings en verhoudings sal tot niet gaan. Niks kan permanent besit word of ervaar word nie. Die toenemende sonde op die aarde, na die sondeval, het veroorsaak dat God die mens se lewe nog korter gemaak het. Die meeste van ons word sewentig of tagtig jaar. Die meeste daarvan is vol moeite en verdriet. Juis die kortstondigheid bring verdriet. Daar moet telkens afskeid geneem word van kosbare besittings en verhoudings. Ons eie verganklikheid, teenoor die ewige bestaan van God, moet maak dat ons vir Hom heilige respek het. Hy besit ewige lewe en Hy alleen kan ons uit die verganklikheid verlos.
12 – 17 : Die digter vra die Here om terug te keer na sy volk en om weer vir Israel goed te wees. As God Hom onttrek van die volk weens hul sonde, gaan die verganklikheid en nietigheid van die lewe hulle nog harder tref. Hulle kry alreeds so swaar. God moet ‘n balans bring tussen vreugde en hartseer. Die Verbondsgod (Jahweh) moet hul ellende sagter maak dat hulle dit kan dra. Uit sy goedheid moet Hy Hom oor hulle ontferm en jammer wees vir hulle (vers 13). Jahweh, wat self DIE LEWE is, moet hul deur die verganklikheid dra, met begrip vir hul ervaring van baie “ON – HEIL” in hierdie lewe. Hy moet weer blydskap gee na slegte tye, en sy heerlikheid aan hulle openbaar. Te veel aanhoudende smart en ellende maak die mens se lewe ondraaglik op aarde. God moet so werk dat die gelowiges en hulle kinders die hand van die Here daarin kan sien. Die nageslag moet weet dat hul God kan vertrou in dié onpermanente lewe. Die openbaring van die heerlikheid (skoonheid, mooiheid, minsaamheid) van die Here lig die mens uit sy depressiewe omstandighede uit, sodat hy sy werk kan doen soos vir die Here! So iemand se werk kan ewige vrug dra op hierdie verganklike aarde! As God ons ewige tuiste is, leef ons uit Hom en word ons dade gevul met permanente vrug, omdat dit wat ons doen uit God gebore is. Die verganklikheid moet ons ook dikwels dreig tot gebed. Ons moet veral bid dat God Homself aan ons en ons kinders so openbaar in ons alledaagse lewe, dat Hy vir ons kinders ‘n lewende werklkheid sal word soos vir ons. Hulle moet ook in God hulle permanente woonplek vind, terwyl hul die geleenthede van die lewe met wysheid sal gebruik.