Ps 91 Die beskerming van die Allerhoogste

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 91

DIE BESKERMING VAN DIE ALLERHOOGSTE !

Psalm 91 is ‘n loflied oor die veilige bewaring van die gelowige wat sy skuiling by God soek. Ons moet kies om by God te skuil en Hom in alle omstandighede te vertrou. As mens Psalm 91 oppervlakkig deurlees, kan dit egter misverstaan word, asof die digter sê dat die gelowige nooit aanvalle sal beleef of deur moeilikhede getref word nie. Die feit dat die kind van God sy TOEVLUG by die Here moet soek (v. 2 en 9), wys egter reeds op gevaar en bedreiging wat aanhoudend op die gelowige afkom. In vers 14 – 15 staan daar duidelik dat hy uit gevaar gered sal word en in nood sal verkeer. Hy moet dikwels deur God uit nood en aanslae gered word. Dit gaan egter van die begin tot die einde van die psalm daaroor dat God, die Allerhoogste (Eljoon), en die Almagtige (Shaddai), in volle beheer van die wêreld is, en dat Hy niks by Hom sal laat verbykom om die gelowige te tref, wat nie sy wil is nie. Selfs die aanvalle en nood word toegelaat, maar telkens sal die Almagtige die kind van God weer daar uitred en deurdra sodat ons Hom kan eer.

Vers 1-8: Die gelowige moet aktief kies om in die skuilplek van die Allerhoogste te SIT! Dit dui op ‘n voortdurende ingesteldheid van vertrou en rus by die Here wat die hoogste gesag en krag in die heelal besit. Hierdie Allerhoogste is ook die Almagtige! Alles is vir God moontlik en daar is geen einde aan sy wysheid en krag nie. Daarom is sy kind by Hom veilig! Die net van die voëlvanger is ‘n beeld van agterbakse menslike vyande waaragter die slinksheid van die bose self sit. Die bose sal selfs die gelowige met siektes en skade aanval, soos in Job se geval, as hy toegelaat word. As God so ‘n aanval toelaat, sal Hy self ook sy kind “dek met sy vlerke” soos die arend sy kinders beskerm. Sy vlerke is ‘n skild en pantser wat veilige bekerming bied. Daarom hoef die gelowige nie te vrees nie. Elke aspek van sy lewe is in die hand van die Here en val onder die aktiewe beskerming van die Here, wat die getroue Verbondsgod is. Aanvalle en siekte kan onverwags op die gelowige afkom, want die duiwel werk skelm en subtiel soos skelms in die nag. Maar geen aanval buite God se wil sal na die kind van God deurgelaat word solank hy by die Here skuil nie. God wil aktief vertrou word! Veral aanvalle van ongelowiges op die kind van die Here sal op die ou end niks permanent uitrig nie.

Vers 9-13: Die digter praat nou direk met die Here en spreek dit uit dat hy die Here sy toevlug gemaak het. Die Here, die Verlosser, sal sy engele stuur om die gelowige te bewaak en te beskerm. Al die aanvalle wat nie mag deurkom na hom nie, sal afgeweer word. Selfs wanneer daar klippe in die weg van die kind van God is, sal die engele hom op die hande dra. Nog meer, hy sal oorwinnend oor die aanvalle van die bose lewe en die slang en die adder vertrap. Jesus het gesê: “Ek gee aan julle gesag om op slange en skerpioene te trap en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie”. (Luk. 10:19) Tog is baie van Jesus se dissipels vervolg, gemartel en gedood. Dit beteken dus nie dat gelowiges niks sal oorkom nie, maar dat onder die bewarende hand van die Here niks met hulle sal gebeur wat die Here nie toelaat nie, en dat juis HIERDIE WETE hulle oorwinnend sal deurdra in alles wat hulle wel moet deurmaak. Die duiwel en slegte omstandighede kan geen permanente skade aan die gelowige bring nie. Inteendeel, op die lang duur word elke aanslag omgedraai in ‘n oorwinning!

Vers 14-16: Hierdie veilige beskerming onder die vleuels van die Almagtige geld net vir dié wat die Here aankleef en Hom liefhet as hulle God! Daar is ‘n liefdesverhouding tussen die Allerhoogste en sy kind! Vanuit die intieme geestelike verhouding tussen die Here en sy kind, roep hy juis die Here aan in tye van nood. Gebed is die uitdrukking van die vaste vertroue op God se beskerming. Dan word God telkens geëer vir die uitkoms wat Hy gee. Die kind van God sal nie voor sy tyd sterf nie en hy sal keer op keer die verlossing van sy God belewe. In elke verlossing en daad van beskerming wat God hom skenk, leer hy die Here persoonlik nog dieper ken!

(Visited 1 078 times, 1 visits today)