Ps 92 Loflied oor God se geregtigheid

Deel hierdie boodskap op sosiale media!

BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 92

LOFLIED OOR GOD SE GEREGTIGHEID !

Dié lied is gewoonlik na die ballingskap op die sabbat gesing by die drankoffer van die eerste lam van die gedurige daaglikse offer. Dit is ‘n vrolike lied wat God as Allerhoogste besing, veral sy eienskappe van goedheid, getrouheid en geregtigheid. In die môre en in die aand/nag moet God besing word, want lofliedere oor wie God is, verkondig Hom ook teenoor mekaar en buitestaanders. Lofliedere tot God is ‘n getuienis oor wat ons oor God glo. God is so wonderlik dat Hy voortdurende lof verdien. Dit maak die gelowige se hart bly as hy fokus op wie God is en watter eienskappe van God hom bly maak. Die kind van God behoort bly te wees oor die ewige goeie eienskappe van God! Musiekinstrumente en sang word aan die volk van God gegee om uitdrukking te gee aan hierdie blydskap oor God.

Verse 1 – 8 : Om God te loof, is die doel van die skepping! God openbaar sy eienskappe deur dade, sodat die volk van die Here God duidelik kan leer ken. Die werke van die Here wat van goedheid, getrouheid en geregtigheid getuig, maak die gelowige bly. Dit gee vir hom ook groot vrymoedigheid om ‘n intieme verhouding met God te hê. Uit die groot dade van God blyk ook die diepte van die gedagtes van God. In sy optrede sien die gelowige dat sy gedagtes ver hoër is as die mens se gedagtes en dat sy weë anders is as wat die mens gewoonlik verwag. God tree in volmaakte geregtigheid en wysheid op. Mense wat ongeestelik en oppervlakkig is, weet dit nie en verstaan dit nie. Hulle is soos dom diere wat in dwaasheid voortleef sonder om God se heerlikheid in die daaglikse lewe raak te sien. Selfs al gaan dit tydelik goed met die goddelose, is dit net tot hul uiteindelike ondergang, omdat hulle God nie in verrekening bring met hul lewe nie. Hulle leef sonder God en sonder hoop in hierdie lewe. Hulle is geestelik blind en sonder begrip oor wie God is. Die gelowige sien egter in al God se handelinge sy wysheid raak en juig daaroor. Met harp en siter/lier prys hy die Here omdat hy insig het in God se karakter.

9 – 16 : God word geprys as hoog verhewe tot in ewigheid! Al sy vyande sal tot niet gaan. Geeneen van God se vyande is vir Hom ‘n bedreiging nie. Hy is die Allerhoogste en niemand kan sy almag aantas nie. Die Here deel ook sy almag met sy kinders deur aan hulle die oorwinning te gee oor die aanslae van die goddelose teen hulle. Die digter is vol moed en krag, omdat hy telkens vars versterk word vir die stryd teen die kwaaddoeners. Daarvan is die vars olie, waarmee hy gesalf word tydens oorwinningsfeeste, ‘n getuienis. God gee aan sy kind onverskrokkenheid in die stryd teen sy vyande en hy weet God sal vir hom alles goed laat uitwerk. Die toegewyde gelowige sal groei te midde van teenstand, en sal soos ‘n boom wees wat geplant is in die huis van die Here, en wat sterk groei in God se teenwoordigheid. In die teenwoordigheid van die Here bly hy geestelik vars en sterk. Hy dien God in sy tempel en beweeg daarvan oorwinnend uit na die uitdagings van die lewe. Selfs as die ouderdom kom om hom af te takel, sal die geestelike mens nog geestelik sterker word en sy vreugde in die Here self vind.

Die mens wat geestelik sterk geword het teen die tyd dat hy oud is, sal geestelike krag ondervind om oorwinnend te leef in die tyd wanneer sy kragte afneem. Paulus het dit in die Nuwe Testament bevestig: ”Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2 Kor. 4:16-18) Die mens wat God nie ken nie, leef net vir die tydelike dinge en streef aardse voorspoed na. In teendeel daarmee rig die gelowige sy gedagtes op die ewige dinge en daarom dra sy geestelike lewe hom seëvierend deur alles wat die aardse lewe van hom vra. Sy blydskap in die Here maak sy lewe ‘n loflied tot God tot die einde van sy lewe. Geestelike groei kom deur jare se getroue lewe in die huis van die Here en in die eie binnekamer. Dit neem tyd en die geleenthede wat die huis van die Here bied, moet gebruik word. ‘n Boom groei nie in een dag tot rypheid en sterkte nie. Die gelowige wat in die ouderdom sterk geword het in die Here, sal kragtig vrugte dra en verkondig dat God in alles reg is, en volgens geregtigheid optree. God is sy Rots en Vastigheid, en hy kan dit met die jonger geslag deel.

(Visited 95 times, 1 visits today)