BYBELSTUDIE OOR DIE PSALMS : Psalm 93
DIE HERE IS KONING BO ALLE MAGTE !
Hierdie is ‘n lofpsalm wat die Here (Jahweh) se koningskap besing. Dit is deel van die groep lofprysingspsalms, vanaf Psalm 93 tot 100. Die Here hou sy skepping in stand en dit is ‘n openbaring van sy standvastige regering. God regeer oor al die nasies. Hy is soewerein en sit van ewigheid af op sy troon. Sy troon het al bestaan voor die heelal geskape is. Hy wat alles uit niks geskep het, kan alles met die grootste gemak beheer. As die nasies teen Hom in opstand kom en sy volk bedreig, is dit vir hom geen bedreiging nie. Daarom moet sy koningskap geprys word. Sy volk kan kalm bly.
Verse 1 – 2 : Die digter begin deur kort en kragtig, maar duidelik te verklaar: ”Die Here is Koning”. Die hele wêreld moet daarvan kennis neem. Die volk van die Here is juis daar op aarde om die koningskap van die ware God te verkondig. Daarom het Jesus in die Nuwe Testament in die groot gebed eerste gesê dat ons moet bid dat God se Naam geheilig moet word en dat sy koninkryk moet kom. Sy wil moet geskied op aarde, soos in die hemel. Die aarde wat in sonde geval het, is in opstand teen sy koningskap en buite sy koninkryk (Ps. 2). Hulle geestelike oë is blind sodat hulle nie die koninkryk van God kan sien nie. Deur die verkondiging van die bestaan van die koninkryk van die Here moet mense se oë geopen word om die koninkryk te sien (Joh. 3:3). Die hoogheid van die Here in gesag en krag bo alles wat bestaan, is die kleed van sy heerskappy. Die wêreld bly staan stewig omdat die krag van die Here wat dit geskep het, dit ook in stand hou. Die feit dat Hy van ewigheid af bestaan en sy troon van ewigheid af onaantasbaar bestaan, maak dat die gelowige rus kan vind in die stabiliteit van sy regering.
Verse 3 – 4 : Die riviere wat kragtig in vloed afkom en lewensgevaar inhou, sowel as die see met sy geweldige golwe is beelde van die volke van die wêreld wat in goddeloosheid in opstand is teenoor God en daarom ook teen sy volk wat Hy vir Hom uitgekies het. Maar die Here is die kragtige Verlosser wie se mag meer is as dié van alle volke saam. Weens die sondeval is daar ‘n rebelse onrustigheid in die natuur van die mens. Hy is eiewillig en selfsugtig en wil alles self probeer beheer en manipuleer sonder om te dink aan wat God se wil is. Hoe sal hierdie onrustige onstuimige nasies tot ware kennis van God kom? Die volk van die Here moet in sy heilige lewenswandel en lofprysinge die hoogheid van Jahweh verkondig. Die konings van die aarde moet besef dat hulle maar klein is en min krag het teenoor die Koning van die konings (Open. 17:14). Die nasies sal woedend teen God veg totdat Hy die wêreld in die eindtyd totaal aan Hom sal onderwerp (Open.11:15-18). Die toorn van die Here sal egter baie groter wees as hul woede as Hy hulle opstand vir altyd tot ‘n einde bring.
5: God het Hom aan sy volk geopenbaar deur tot hulle te spreek, deur visioene en deur wonders. Dit is as ‘n getuienis neergeskryf vir die hele wêreld om te lees. Sy getuienisse is betroubaar, want Hy het betroubare ooggetuies gebruik om dit neer te skryf. Sy volk moet van sonde af wegbly en afgesonder vir Hom lewe, sodat die wêreld die verskil kan sien wat die ware God in hul lewens gedoen het. Die Koning van Israel verwag respek, gehoorsaamheid en aanbidding van sy volk. Heiligheid is een van die groot kenmerke van sy dienaars. Die gemeente van die Here moet sy Koningskap verkondig met woord en lewe. Johannes, die apostel, sien en hoor hoe die hemel aansluit by die boodskap van hierdie gedig: ”Die koninkryke van die wêreld het die eiendom geword van onse Here en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid . . . En die nasies was vertoornd, en U toorn het gekom, en die van die dode, om geoordeel te word en om die loon te gee aan U diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat U Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf.” (Open. 11:15-18)